
Uitsprake van mnr. Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, dat ’n 50%-aandeleskema ingestel gaan word om grond te herverdeel, is onverantwoordelik en ondeurdag, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor grondhervorming.
Dr. Groenewald sê hierdie soort uitsprake skep totale onsekerheid in die landbougemeenskap.
“Die boere sê vir ons hulle gaan nou eerder in Australië of in ander lande boer, want daar is onsekerheid of hulle nog hul grond gaan hê.
“Dit het ook ’n nadelige uitwerking op kommersiële banke wat produksielenings toestaan aan boere waar grond as sekuriteit moet dien. Dit sal ’n vraagteken plaas agter daardie sekuriteit.
“Ons doen ’n beroep op die ANC om eers seker te maak dat ’n sukses gemaak word op grond waarop eise reeds ingedien is en wat reeds herverdeel is, en waarvan die minister self erken dat 90% daarvan ’n mislukking was. Eers dan kan voortgegaan word met verdere grondherverdeling.
“Ten tweede sê die VF Plus dat die minister nou ’n grondoudit moet voorlê sodat gesien kan word hoeveel wit en hoeveel swart boere het hoeveel kommersiële landbougrond.
“Indien daar nie so ’n oudit is nie, kan teikens nie gestel word nie, en tas die minister in die donker rond oor hierdie aangeleentheid,” sê dr. Groenewald.