Die volstruisbedryf klou tans vas aan die hoop dat vleisuitvoer buite die Klein-Karoo Donderdag, 6 Oktober 2011, hervat sal word.
Mnr. Anton Kruger, uitvoerende hoof van die Volstruisbesigheidskamer (VBK), sê die Europese Unie het nog nie ’n sertifikaat in dié verband uitgereik nie, maar die datum is vervroeg mits die H5N2-virus nie in enige verdere monsters voorkom nie.
Die bedryf is in April hard geslaan nadat volstruise in die Klein-Karoo positief getoets is vir die virus en die land se uitvoer van volstruisvleis verbied is. “Nou hou ons duim vas dat die uitvoerstatus vir die res van die land, buiten die Klein-Karoovallei, weer ingestel sal word,” vertel Kruger.
Desember 2011
Volgens Kruger hoop die Klein-Karoo om teen 9 of 10 Desember 2011 moontlik sy uitvoerstatus te herwin. Die vallei het aan die begin van die jaar sowat 130 000 volstruise gehad. Kruger sê hy skat dat sowat 70 000 voëls oor is. Die meeste van die diere wat verloor is, moes weens positiewe toetse van kant gemaak word.
Die laaste volstruise is op 9 September 2011 weens positiewe toetse geslag.
“Die Europese Unie (EU) se vereistes bepaal dat ’n tydperk van drie maande moet verloop ná die laaste volstruise geslag is voor uitvoer hervat mag word.
In dié tydperk mag daar vir twee inkubasietydperke, van sowat 21 dae elk, nie weer positiewe toetse wees nie. Dan sal die EU dit oorweeg om die uitvoerstatus te herstel,” verduidelik Kruger.
4 Oktober 2011