
In die week tot 30 Junie is 112 574 ton mielies uitgevoer en die week voor dit 86 920 ton. Daarvan is net minder as 106 000 ton wit mielies in die laaste drie weke van Junie na Kenia uitgevoer, waar ’n nypende mielietekort heers.
’n Rapsie meer as 100 000 ton geel mielies is van 17 tot 30 Junie na Taiwan verskeep. Dié land het sedert die begin van die seisoen altesaam 160 701 ton Suid-Afrikaanse geel mielies ingevoer en Korea 53 120 ton.
Kenia het in die laaste drie weke van Junie 105 451 ton wit mielies ingevoer, wat ook dié land se groottotaal tot dusver in hierdie bemarkingstyd is. Suid-Afrika kan egter binne kort mededinging ten opsigte van sy uitvoer van wit mielies na Kenia verwag.
Zambië voer ook uit
Die webwerf Business Daily berig me. Dora Siliya, Zambië se minister van landbou, het verlede week samesprekings gevoer met mnr. Willy Bett, haar Keniaanse eweknie, met die oog daarop om uitvoerooreenkomste vir mielies en suiker tussen dié twee lande af te handel.
“Volgens Zambië is daar hierdie seisoen 1,4 miljoen ton mielies beskikbaar vir uitvoer met ’n verwagte oes van 3,6 miljoen ton teenoor verlede jaar se 2,9 miljoen ton,” sê mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbou-sakekamer Agbiz.
Me. Conce Moraba, landbouekonoom by Absa, sê hoewel hawe-owerhede glo hulle sal 4,2 miljoen ton vir uitvoer kan hanteer, is daar nie ’n groot vraag wat veral wit mielies betref nie. “Die oplossing is waarskynlik om die verbruik van wit mielies in die voerbedryf te verhoog,” sê sy.
* Het jy ’n nuuswenk, kommentaar, ’n foto of video wat jy aan ons wil stuur? Gebruik Whatsapp om met ons te gesels by 063 720 3632.