
’n Enorme uitvoerpotensiaal bestaan vir kunsmis na Afrika-lande, soos Zimbabwe, Zambië, Angola, Mosambiek en Malawië.
Volgens mnr. Adriaan de Lange, voorsitter van die Misstofvereniging van Suider-Afrika (MVSA), se jaarverslag het kunsmisuitvoer in 2013 met 64% toegeneem tot 665 000 ton. Die waarde hiervan was meer as R4 miljard, dubbeld soveel as die vorige jaar se R2,1 miljard.
De Lange was ongesteld en daarom is sy verslag deur mnr. Adam Mostert, hoof uitvoerende beampte van die MVSA, tydens dié vereniging se kongres op 10 Junie vanjaar voorgelê.
Sowat 62% van alle uitvoer gaan na Zambië en Zimbabwe, in daardie volgorde, en beide lande het in 2013 noemenswaardig meer kunsmis uit Suid-Afrika ingevoer.
Botswana was in die derde plek, met Mosambiek ’n kortkop agter in die vierde plek. Invoer na Mosambiek het afgeneem, maar invoer na Australië, Brasilië, Malawië, Swaziland, Angola, Kenia en die Demokratiese Republiek van die Kongo het toegeneem.
Volgens De Lange se verslag het die kunsmismark in Suid-Afrika in die vroeë tagtigerjare ’n hoogtepunt bereik en groei in die nabye toekoms word nie voorsien nie.
Suid-Afrika is ’n netto-invoerder van kunsmisprodukte, behalwe vir ammonium en rotsfosfaat. Gedurende 2013 is sowat 1,4 miljoen ton van dié produkte ingevoer, wat 5,7% minder is as die vorige jaar. Die koste hiervoor was R5,6 miljard, wat 2,8% laer was as die vorige jaar.
Die invoer bestaan hoofsaaklik uit ureum en kaliumchloried, omdat Suid-Afrika nie oor potasbronne beskik en geriewe het om ureum te vervaardig nie. AECI, die plofstof- en kunsmismaatskappy, het die land se enigste ureumaanleg bedryf, maar sy deure is in 2002 gesluit