Dit gaan nie gebeur dat die renosterspesie uitsterf terwyl ons die lot van die renosters in ons hande hou nie, sê adv. Johnny de Lange, voorsitter van die portefeuljekomitee oor water en omgewingsake.
Openbare verhore oor hoe renosterstropery stopgesit kan word, word tans in die Parlement gehou. Altesame 333 renosters is in 2010 en 448 verlede jaar gestroop. Vanjaar trek dit al by 28.
Die portefeuljekomitee het 14 skriftelike voorleggings oor die kwessie gekry.
Mnr. Fundisile Mketeni, adjunk-direkteurgeneraal gemoeid met biodiversiteit en bewaring by die Departement van Water en Omgewingsake, het gesê hulle sukkel om inligting oor die opgegaarde voorraad renosterhorings te kry.
’n Amnestietydperk sal waarskynlik ingestel moet word sodat mense die aantal horings wat in hul besit is, bekend kan maak.
Private eienaars
Mketeni het gesê hulle weet hoeveel van die opgegaarde voorraad in die Regering se hande is, maar nie hoeveel private eienaars besit nie. De Lange het dit onomwonde gestel dat wetgewing ingestel moet word wat mense verplig om hierdie inligting bekend te maak.
Hy het gesê hy is verstom dat die departement nie weet hoeveel voorraad daar in die land is nie.
De Lange het voorgestel dat ’n werksessie met belanghebbendes, soos die komitee, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Doeane, die Departement van Finansies en die Departement van Water en Omgewingsake, binnekort gehou word om te kyk hoe die stropery stopgesit kan word.
Die inkomste in 2010 vir die wettige jag van 131 witrenosters was R61 miljoen.
26 Januarie 2012