Besoedeling van die Apiesrivier is onder die soeklig met die Tshwane metroraad wat ses dae het om te reageer, sê AfriForum.
Luidens ‘n verklaring het mnr. Jason Ngobeni, munisipale bestuurder, ses dae tyd om met ’n plan van optrede vorendag te kom wat die besoedeling in die rivier daadwerklik sal oplos.
Die Rooiwal-rioolaanleg pomp glo massas rioolwater in dié rivier in wat boere se bedrywighede asook die alledaagse lewens van inwoners in die distrik Hammanskraal ontwrig.
“Daar is verskeie boere wat nie meer water vir besproeiing het nie. AfriForum dring daarop aan dat die munisipaliteit dadelik moet ingryp en aan die gemeenskap skoon water vir huishoudelike gebruik en besproeiing voorsien.
"Die gemeenskap se water moet getoets word en diegene wat die omgewing se water gebruik, moet in kennis gestel word van die gevare daarvan,” sê mnr. Julius Kleynhans die hoof van die organisasie se omgewingsdepartement.
WGO en Blou Skerpioene
As Ngobeni en die munisipaliteit nié die probleem oplos nie, beoog die organisasie om die hulp van die Blou Skerpioene en die Wêreldgesondheidsorganisasie in te roep.
“Die gemeenskap oorweeg ook om kriminele klagte teen Ngobeni te lê as hy versuim om die probleem te hanteer,” sê Kleynhans.
Kleynhans sê boere en ander lede van die gemeenskap het die besoedeling en die gevolge daarvan onder sy aandag gebring. “Die gemeenskap, onder wie kommersiële boere, is baie bekommerd oor hul gesondheid en ekonomiese voortbestaan weens dié nalatigheid. Daar is boere wat hul oeste verloor en mense wat in die hospitaal lê weens die rioolprobleem.”
Die organisasie stel ook voor dat die gebied ondersoek word om dit moontlik tot ’n rampgebied te laat verklaar.
Ngobeni se afsnydatum is 3 Oktober 2011.
28 September 2011