
Daimler-Benz AG se Unimog (Universal-Motor-Gerät) is van Duitse afkoms en só boer soos koffie en beskuit, want dit is immers 70 jaar gelede spesifiek ontwerp om produktiwiteit in die landbou te verhoog.
Albert Friedrich, ‘n Daimler-lugvaartingenieur, se hoofopdrag in die vroeë 1940’s was om ‘n veelsydige voertuig vir die landbou te ontwerp. In die na-oorlogjare was kos skaars en planne moes dringend gemaak word om voedselproduksie te stimuleer en te verhoog.
Friedrich se ontwerpplanne het tot die eerste prototipe gelei wat op 9 Oktober 1946 aan ‘n toetsrit onderwerp is. Tydens hierdie toetsrit was daar glo geen enjinkap nie en ‘n swaar vrag hout moes oor baie ruwe bosboupaaie vervoer word.
Ontwikkeling van trekkers
Hierdie prototipe het nie net later die ontwikkeling van trekkers en werktuie vir die landbou gerevolusionêr nie, maar ook die weg gebaan vir nuwe perspektiewe en toepassings in byvoorbeeld bosbou, weermag(te), munisipale tegnologie en padgebruiksdienste.
Reeds baie vroeg in die Unimog se geskiedenis is die enjin en ratkas direk regs van die voertuig-middellyn gemonteer. Die hoofrede daarvoor was dat die onderskeie dryfas-hulse teen ‘n geskikte hoek ten opsigte van die twee asse geplaas kon word. Met hierdie unieke ontwerp was slegs vier kruiskoppelinge nodig om die enjinkrag by die vier wiele te kry ... ‘n ontwerp wat vandag nog in die 4023/U 5023-reeks ingespan word.
Geveerde asse
Die vroegste Unimogs se maksimum snelheid was 50 km/h en dit het gespog met ’n geveerde en gedempte asse, vierwieldrywing met sluit-ewenaars op die voor- en agteras, remme op die voor- en agteras, ‘n stewige onderstelraamwerk, ‘n beskermde kajuit met twee gestoffeerde sitplekke, kragaftakkers en implement-hegpunte voor, agter, middel en aan weerskante!
In 1954 was die Unimog reeds veelsydig genoeg om met 66 verskillende landbou-implemente toegerus te word. Sedertdien het 30 verskillende modelle die lig gesien en is bykans 400 000 eenhede wêreldwyd verkoop. Geen ander kommersiële voertuig kan as ‘n trekker, sleepvoertuig, vragmotor, brandweerwa, eksplorasievoertuig, bus of as ‘n algemene nutsvoertuig ingespan word nie!
NS: Het jy 'n Unimog-storie?
Stuur dit asb. vir Andries Groenewald: groenewaldandries@gmail.com