
Die magtige waters wat tans deur die Noord-Kaap vloei, word teen die einde van die week by Upington verwag.
Mnr. Hofmeyr Joubert, voorsitter van Agri Noord-Kaap se watersakekomitee, sê die watervlak onder die dorp se brug lê tans op 7,23m, en die brug is 8,5m hoog.
“Ons verwag nie dat die brug sal oorstroom nie. Die groot klomp water wat vroeër vandeesweek verby Douglas is, sal ons wel teen Donderdagnag en Vrydag bereik, wat dan die piek van die water sal wees,” vertel Joubert.
Kyk na 'n fotogalery van die waters by Douglas.
Skade
Volgens Joubert is skade reeds aangemeld. Bedrywighede by die Lemoenoord buite die dorp moes tydelik gestaak word omdat van die landerye weens die water afgesny is.
Boere in die Boegoeberg-distrik het ook laat weet dat hulle probleme met hul noodwalle by die Oranjerivier ondervind wat tans weens die baie water pap raak. Skade is ook aan van die dorp se sluise aangerig toe dié nie betyds gesluit kon word nie.
Lees ook:
Reënskade in Noord-Kaap R88 miljoen
In- en uitvloei
Mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, sê tans veroorsaak die uitvloei van die Vanderkloofdam die meeste probleme. Dié dam is vandag (12 Januarie) 113% vol, met ‘n uitvloei van 2 300 kubieke meter water per sekonde.
By die Douglas-stuwal, waar die meeste water vandeesweek verby is, vloei tans 2 362 kubieke meter water per sekonde, terwyl ‘n vloei van 4 317 meter per sekonde by die samevloeiing van die Oranje- en Vaalrivier buite die dorp gemeet is.
Die Vaaldam is 100% vol met ‘n uitvloei van 780 kubieke meter per sekonde. Die Bloemhofdam is 104% vol met ‘n uitvloei van 2 800 kubieke meter per sekonde. By die Gariepdam vloei 2 000 kubieke meter water per sekonde uit en die dam is 115% vol.
Moeilike tyd vorentoe
Van Rensburg sê indien verdere swaar reëns nie in die noordelike en sentrale dele val nie sal die riviere oor ‘n week of twee na normaal terugkeer. “Die volgende twee en ‘n half maande, tot einde Maart, gaan dan vir die gemeenskappe en boere hier langer as ‘n jaar voel,” merk hy op.
12 Januarie 2011