
Boere van Limpopo en Mpumalanga wat hul plase aan die Regering verkoop het of net bloot verkoop het omdat grondeise te veel onsekerheid in hul omgewings skep, koop plase in die Karoo waar relatief min grondeise is en dit is ’n veilige gebied om in te boer.
Hierdie boere ontwrig die hele mark, want hulle kan gewoonlik bekostig om meer per hektaar te betaal, danksy die verkoop van hul hoëpotensiaal grond elders.
Die boere wat tans grond in die Karoo koop, is boere wat kan bekostig om uit te brei en is relatief groot boere met min skuld. Soos reg oor die land gaan kleiner boere hier, teen huidige grond- en huurpryse, sukkel om uit te brei.
Huurpryse word deur die prys van skaapvleis beïnvloed, omdat die Karoo Suid-Afrika se primêre skaapvleisproduserende gebied is. Wanneer vleispryse hoog is, sal huurgrond wat in die mark kom ook gewoonlik duurder wees. Huurpryse word meestal per ooi bepaal, en nie per hektaar nie.
Huurgrond in die Hanover-, Beaufort-Wes- en Victoria-Wes-omgewings is baie skaars en pryse beloop sowat R240 tot R350 per ooi per jaar.
Maar ’n boer sal gelukkig wees om nog grond teen R250/ooi/jaar te kan huur, die norm is nader aan R300/ooi/jaar.
Karoo-plase is groot. Om ’n plaas te huur wat ver van jou eie is, is ongerieflik. Boere is dus bereid om ’n premie te betaal om ’n buurman se grond te huur, omdat dit bestuur vergemaklik.
Die invloed wat die moontlike ontginning van skaliegas op grondpryse in die omgewing het, kan nog nie presies bepaal word nie.
Die probleem met skaliegas is dat dit die water kan besoedel en groot dele van die Karoo in ’n omgewing kan verander wat geen doel vir die landbou het nie. Aan die anderkant glo sommige mense dat landbougrond nóg skaarser gaan maak en grondpryse gaan laat styg waar dit nié plaasvind nie.
* Francois Human is verbonde aan die departement landbou-ekonomie, Vrystaatse Universiteit. humanwf@ufs.ac.za.