Verskeie faktore is ’n groot bedreiging vir water in die land en Agri SA wil weet hoekom die visier op spesifiek besproeiingsboere gestel word.
Luidens ’n mediaverklaring meen die organisasie onwettige watergebruik deur sommige besproeiingsboere is kommerwekkend. Hy bied sy samewerking aan die Departement van Waterwese om dit te probeer hokslaan.
“Verskeie ander faktore is ’n selfs groter bedreiging vir die beskikbaarheid en gehalte van water vir die samelewing. Daarom is dit jammer dat die besproeiingsektor Maandag (5 Maart 2012), met die loodsing van die Nasionale Waterweek as sondaar uitgesonder is,” sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Die Blou Skerpioene het toegeslaan op twee besproeiingsboere in die distrikte Oranjeville en Frankfort, wat glo water onwettig uit die rivier onttrek.
Kapasiteitsprobleme
Die organisasie sê dat die departement eers 12 jaar ná die Nasionale Waterwet ingestel is, met verifiëring- en bevestigingsprosesse deur ’n professionele diensteverskaffer in die Vaalrivierstelsel begin het. Dit is glo aan kapasiteitsprobleme met die toepassing van die wet toegeskryf.
“Hoewel die onwettige gebruik van oorskotwater nie goedgekeur kan word nie, moet tog in ag geneem word dat dit wel produktief aangewend is en tot voedselproduksie, werksverskaffing en die ekonomiese welvaart in landelike gebiede bygedra het,” aldus Möller.
Holistiese benadering
Möller sê ’n holistiese benadering is nodig om ál die verskillende probleme, veral besoedeling wat die voortbestaan van veilige drinkwater en water wat geskik vir landbouproduksie is bedreig, aan te pak.
’n Nedlac-verslag oor watergehalte wat verlede jaar aan me. Edna Molewa, Minister van Waterwese, voorgelê is, het uitgewys dat die land se waterstelsels in ’n swak toestand is en steeds verswak. “Watersuiweringswerke van munisipaliteite is nie op standaard nie en verskeie waterstelsels word nadelig geraak deur mynbou-aktiwiteite.
"Hierdie probleem kom vanuit ’n ekologiese, landbou- asook gesondheidsperspektief en vereis ’n holistiese benadering om die situasie te stabiliseer en reg te stel,” lui die verklaring.
Die organisasie hoop om binnekort met die minister te vergader wanneer hulle weer hul volle samewerking vir die beskerming van die land se waterbronne sal bevestig.
6 Maart 2012