
Die pseudo-wetenskap gebruik vrees om boodskappe oor te dra en boere te mislei, met die gevolg dat dit boere minder doeltreffend maak, het dr. Doug Edmeades, uitgesproke wetenskaplike en landbouraadgewer van Nieu-Seeland, op ’n simposium van die Misstofvereniging van Suider-Afrika in Pretoria gesê.
Hy het pseudo-wetenskap as valse wetenskap bestempel. In die landbou se groot taak om teen 20250 ’n allemintige 9 miljard mense te voed, het dié bedryf die wetenskap en oordrag van tegnologie broodnodig. Wetenskaplikes argumenteer egter gedurig met mekaar oor dinge soos aardverwarming en genetiese verandering, gevolglik weet die mense dikwels nie wie om te glo nie. “Mense se respek vir die wetenskap word afgetakel en valse inligting word oorgedra. Dis hoe pseudo-wetenskap ontstaan het,” het Edmeades gesê.
Die vraag is of pseudo-wetenskap gevaarlik is? Hy het onder meer na die Albrecht-metode verwys en gesê dit is reeds deur die wetenskap as verkeerd bewys en dat dit veroorsaak dat raadgewers foutiewe aanbevelings vir kunsmis aan boere maak en dan produseer hulle minder doeltreffend.
Net so glo sommige mense organiese boerdery is die oplossing vir alle probleme, maar die wetenskap het bewys dit is net 68% so doeltreffend soos konvensionele boerdery, die produkte se gehalte is nie beter nie en dit is nie meer bevorderlik vir die grond en omgewing nie.
Sulke misleidings is dus gevaarlik in die sin dat dit boere mislei, hul selfvertroue afbreek en veroorsaak dat hulle swakker boer.
Daarenteen het die wetenskap groot bydraes gelewer tot die verbetering van die landbou deur die eeue. “Die wetenskap moet weer sy regmatige plek inneem,” het hy gesê.