
Onderstepoort Biologiese Produkte het vordering gemaak met aanvulling van die tekort aan entstof, sê dr. Jacob Modumo, hoof van sake-ontwikkeling by OPB.
In ’n nuusbrief aan rolspelers sê Moduma dat OBP nou sekere suksesse kan vermeld. “Die OBP het dit reggekry om in Oktober nege van die 12 produkte wat deur die tekort geraak is, te produseer en beskikbaar te stel.
“Sedert September is produkte soos Afrika Perdesiekte (AHS) Slenkdalkoors (RVF) en Brucella S19 voortdurend in klein weeklikse hoeveelhede beskikbaar gestel om die agterstand in te haal. Maar, enkele knelpunte kom nog voor, wat die beoogde leweringsdatums vir B-Phemeral en Bloutong (BT) raak.
“Die BT-entstof is beskikbaar in drie bottels in een boksie. Nie alle bottels sal, soos gewoonlik, in dieselfde boksie beskikbaar wees nie. Die uitstaande bottel/s sal vier tot ses weke later by verkoopspunte beskikbaar wees.
“Wetenskaplike menings stel voor dat inenting met die beskikbare bottel kan geskied terwyl vir die oorblywende bottels gewag word, sonder om die immuunstatus van skape in die gedrang te bring.
“Na verwagting sal die B-Phemeral-entstof laat in November beskikbaar wees,” aldus Modumo.
Sien OBP se tabel oor die entstof hieronder:
Produkte | Dosisse vrygestel | Dosisse verwag @ laat Nov. |
Bloutong | 1 000 000 (beskikbaar) | 2 000 000 |
AHS | 29 820 (die vorige week) | 360 000 |
Brucella S19 | 320 000 | 135 000 |
B. phemeral | In toetsing | 37 560 |
Slenkdalkoors lewend | 2 083 300 (beskikbaar) | Dieselfde hoeveelhede is steeds beskikbaar |
Slenkdalkoors Inaktief | In toetsing | >25 000 |