
Veeboerdery is onder groot druk en boere is vandag 40% swakker daaraan toe as agt jaar gelede, het mnr. Mecki Schneider in sy voorsitterverslag op die kongres van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) in Windhoek gesê.
Die LPO monitor sedert 2006 bees- en skaapboerderye se produksiekoste en inkomste om ’n produksiekoste-indeks saam te stel, wat duidelik toon dit is onder druk. Volgens die berekenings moet boere elke jaar 5% meer doeltreffend boer om op dieselfde vlak te bly.
Arbeidskoste is een van die grootste uitgawes; dus moet boere sorg dat hulle oor ’n doeltreffende, gemotiveerde arbeidsmag beskik. Lek- en voerkoste is in verskeie gebiede ook 'n groot uitgawe en boere moet meer aandag aan die doeltreffende benutting van lek en voer gee.
Die lewendehawesektor werk saam met die Vleisraad aan 'n plan ná die strenger invoervereistes wat vroeër deur die Suid-Afrika ingestel is. “Die uitdaging is om op nasionale vlak toenemend van ’n speenkalf- na 'n osproduksiestelsel oor te skakel,” volgens Schneider.
Die nuwe lewendehawe-invoervereistes deur Suid-Afrika het die jaarlikse bemarking van ongeveer 260 000 bokke, 90 000 skape en 150 000 speenkalwers in die gedrang gebring. Hoewel die vereistes onlangs verslap is, word die druk steeds gevoel, omdat Suid-Afrika se Rooivleisprodusente-organisasie blykbaar steeds poog om die maatreëls weer ingestel te kry.
“Die vind van nuwe oplossings is nie maklik nie, want ons sal moontlik die samestelling van ons nasionale kudde moet verander. Ons kan egter nooit die lewendige uitvoere van vee na die RSA of enige ander land totaal stop nie. Namibië het die mees wisselvallige reënvalpatroon in Sub-Sahara-Afrika en sal altyd blootgestel wees aan droogtes en onvoldoende reënval. Hierdie uitvoere lewer dus 'n uiters belangrike uitlaatklep in kritiese tye,” het Schneider gesê.
Spesiale aandag sal aan die bokbedryf gegee moet word, want hulle het geen ander mark as Suid-Afrika vir die meer as 260 000 bokke wat jaarliks bemark moet word nie.