
Dit kos die land tot meer as R5 miljard per jaar om gesteelde koper te vervang, terwyl koperkabeldiewe so min as R7/kg vir dié metaal deur skroothandelaars betaal word.
Die Parlement se Portefeuljekomitee vir Water en Sanitasie het openbare verhore gehou oor vandalisme en diefstal van die land se water-infrastruktuur.
Mnr. William Moraka, waterspesialis van die SA vereniging van plaaslike regerings (Salga), het gesê dat skade en diefstal by pompstasies die land oor drie jaar R16 miljoen kos en oor dieselfde tydperk R27 miljoen by reservoirs.
Hy het ook uitgewys dat die vervangingswaarde van die land se infrastruktuur vir water en sanitasie, gereken op data van 2011, sowat R446 miljard beloop.
'n Groot uitdaging in beide die water- en elektrisiteitsektor is die diefstal van koperkabels. Moraka het gesê die elektrisiteitseenheid van 'n metro het R40 miljoen se verliese aan infrastruktuur gely, terwyl die water- en sanitasie-eenheid verliese van sowat R20 miljoen gely het.
'n Voorstel is dat skroothandelaars wetlik verplig moet word om verkopers van skroot elektronies te betaal. Betaling via bankrekenings sal dit ook vir die polisie moontlik maak om diewe op te spoor.
Mnr. Lulu Johnson, voorsitter van die portefeuljekomitee, het gesê hy hoop die kwessie oor vandalisme en diefstal van die land se waterinfrastruktuur word in die toekoms ernstiger opgeneem, want die komitee het 'n skamele 12 skriftelike insette en vier mondelinge voorleggings hieroor gekry.