Die moontlikheid om ’n prystabel vir die varkbedryf vas te stel, moet ondersoek word, aldus die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAVPO).
Mnr. Peter Mockford, voorsitter, sê die organisasie probeer tans vasstel hoekom die prys wat die boer verdien en die prys wat die verbruiker betaal, aansienlik verskil.
Hy sê so ’n tabel kan boere help om seker te maak hulle kry die beste prys vir hul produkte. Dit maak hom warm onder die kraag wanneer hy slegs 18% kry van die verkoopprys van spek aan die verbruiker.
“Ek raak omgekrap as ek sien spek word soms teen vier keer meer verkoop as wat ek daarvoor betaal word.” Mockford sê hy kan verstaan dat uitdagings van hul eie handelaars in die gesig staar, soos kragtariewe en diefstal, maar die rede vir die verskil moet vasgestel word.
Die verskil
Mnr. Barry Gibbs, ondervoorsitter van die SAVPO, sê boere verdien tans vir spek sowat 18% van die prys wat die verbruiker moet betaal, terwyl hy vir vars varkvleis sowat 30% kry van dít wat die verbruiker betaal.
“’n Paar jaar gelede het die boer tot 25% van die eindprys van spek gekry, en tot 50% van die eindprys van vars varkvleis. Die boer kry tans sowat R16,50 per kilogram spek en vir graad C-vleis kry die boer soms net R9,00 per kilogram,” aldus Gibbs.
Mockford sê die ideaal sal wees as ’n boer nege of tien keer meer kan verdien as dít wat hy vir mielies en voer betaal om ’n vark te voer.
27 September 2011