
Om met varke te boer, verg meer as bloot net die aanhou van diere in ’n hok, sê mnr. Simon Streicher, bedryfshoof van die SA Varkprodusente-organisasie (Savpo).
Hy het kommentaar gelewer oor die voorval van erge diereverwaarlosing op die Noordwes-plaas van me. Thandi Modise. Sy is voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, en voormalige premier in dié provinsie.
Streicher sê varkboerdery is ’n gespesialiseerde bedryf en hy het namens Savpo sy kommer uitgespreek oor sommige produsente se benadering om vinnig geld met varkproduksie te verdien.
“Varkboerdery is ’n ernstige bedryf wat tyd verg, asook die etiese optrede van boere wat die welvaart van hulle diere verseker,” sê hy. “Vir iemand wat nog nooit by ’n boerdery betrokke was nie en met ’n varkproduksie begin, is dit ’n katastrofe in wording.” Streicher het nuwe toetreders tot die varkbedryf gemaan om hulle vooraf van die uitdagings van varkproduksie te vergewis.
Modise, die voormalige Noordwes-premier, het in ’n verklaring aangedui sy was onbewus van die probleme op haar plaas Modderfontein naby Potchefstroom. Byna 120 van haar plaasdiere moes van kant gemaak word omdat hulle erg verhonger was.
In ’n onderneming om haar samewerking met die ondersoek na die voorval te gee, gaan sy onder meer toesien dat die karkasse verwyder word. Die oorblywende diere is na ’n DBV-tak in die omgewing geneem. Sy gaan die plaas probeer verhuur.
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus se parlementêre woordvoerder vir landbou in Noordwes, het gesê Modise is ’n “swak voorbeeld vir nuwelingboere. Die besit van ’n plaas vereis verantwoordelikheid, harde werk, toewyding en kundige bestuur.”
In die reaksie van die kantoor van die ANC in die Parlement word media-berigte beskryf as ’n ongelukkige voorval wat verpolitiseer word.
Luidens ’n berig in Beeld het die EFF gesê hy sal Modise se plaas sonder vergoeding onteien om die diere van haar “wreedheid” te red. “Niemand mag plase besit en dit misbruik nie.”
Mnr. Marius Redelinghuys, DA-woordvoerder, het gesê die ANC probeer die aandag aflei van die feit dat Modise wreed teenoor diere was. “Sy het toegelaat dat hulle vrek van honger en dors en oorblywende diere tot kannibalisme gedwing. Sy moet soos enige ander mens die gevolge dra.”
* Vrae word ook gevra oor die lening van die Land Bank waar Modise verkry het om die plaas te koop, hoewel sy nie ’n bona fide boer is nie.
Bron: Beeld.