
Skokkende tonele het lede van die polisie en die DBV begroet toe hulle die plaas van me. Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, besoek het: Bykans een derde van die varke op die plaas het van die honger en dors gevrek en heelwat diere moes van kant gemaak word.
Van die varke het aan die karkasse van ander dooie diere begin vreet om aan die lewe te bly.
Luisens ’n berig op die Sunday Independant se webwerf het dié toneel hom afgespeel op die plaas Modderfontein, Potchefstroom, wat Modise sowat drie jaar gelede vir miljoene rande gekoop het. Volgens die webwerf was geen werkers op die plaas te vinde nie.
By navraag het Modise glo gesê sy is woedend oor die gebeure op haar plaas. Sy het gesê sy probeer boer.
Die DA-LP mnr. Chris Hattingh het die plaas besoek en gesê dit is ’n klassieke voorbeeld van ’n hoë ANC-politikus wat finansiering via die Land Bank – wat vir bona fide boere bedoel is – kon bekom om te begin boer.
Die DBV ondersoek dié saak.
Lees die volledige berig: Sunday Independent
* Dr. Pieter Groenewald, parlementêre woordvoerder van landbou vir die Vryheidsfront Plus sê Modise, se verwaarlosing van diere op haar plaas naby Potchefstroom is skokkend, getuig van swak bestuur en is ‘n swak voorbeeld vir veral swart opkomende boere. Sy moet vervolg word vir dieremishandeling.
“Modise se verskoning dat haar plaasvoorman gedros het, is onaanvaarbaar. Dit beteken sy het vir minstens ‘n week na twee weke nie met die voorman gekommunikeer nie en getuig van swak bestuur aan haar kant. Daar kan met reg gevra word hoekom die voorman gedros het, is dit blote laksheid en onverantwoordelikheid, of het sy nie die voorman vergoed nie? Modise moet die redes verskaf.”