Varkpes kom tans in dele van Gauteng en in die weste van Mpumalanga voor, maar dis onder beheer, sê die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAVPO).
Mnr. Simon Streicher, hoofbestuurder, sê mediaberigte wat beweer die situasie is buite beheer, is verkeerd.
“Die situasie is onder beheer, en dié kleinhoewes en plase waar die siekte wel bevestig is, is onder kwarantyn geplaas. Altesame sowat 500 varke op 10 plase en kleinhoewes word geraak. Die provinsies se veeartsenydiens sal in die komende week begin om dié diere van kant te maak,” vertel Streicher.
Die eerste tekens van dié siekte is vroeg in Januarie in die distrik Delmas gevind. Die gebiede wat geraak word, sluit ook die Meyerton-omgewing in.
Beïndruk
Streicher sê hulle is baie beïndruk met die provinsiale veeartsenydiens se hantering van die uitbreking asook die toetse. “Hulle moes baie goeie werk doen om al die hoewes en plase waar die siekte voorkom, te vind.”
Hy sê die vervoer van varke in Gauteng is nie verbied nie, “dit raak slegs dié vee-eienaars wat onder kwarantyn geplaas is. Geen veilings van varke mag vir eers in Gauteng en Mpumalanga plaasvind nie.”
Die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling raai boere aan om nie tans diere in die geraakte gebiede te koop nie.
Stappe
Sedert die uitbreking het die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, die Veeartsenydiens in Gauteng en due SAVPO nou saamgewerk om die siekte te bestry.
Opvolgtoetse word gereeld gedoen, en Streicher sê nog geen verdere tekens van die siekte het voorgekom nie. “Ons is besig met die proses wat gevolg moet word om die situasie op te los.”
Enigiemand wat vermoed dat hul diere die siekte het, kan die veeartsenydiens in die onderskeie provinsies bel:
Mpumalanga: Delmas: 013 665 3440, Middelburg: 013 246 1212, Siyabuswa: 013 973 0302
Gauteng: Germiston: 011 821 7700, Pretoria: 012 316 1600, Randfontein : 011 411 4300
6 Februarie 2012