By die verhandeling van landbougrond behoort die Staat die reg te hê om ’n opsie uit te oefen om met elke normale transaksie die spesifieke grond teen dieselfde prys te bekom.
Dit beteken dat die owerheid nie as ‘n aktiewe bieër of koper optree nie en dat die beginsel van gewillige koper en verkoper nie in gedrang kom nie, sê dr. Manie Schoeman, eertydse ANC-LP van Cradock.
Schoeman, wat vir 20 jaar van 1989 tot 2009 lid van die Parlement was en geleentheidspreker op die Oos-Kaap NWKV se jaarkongres op Cradock, het gesê indien dié stelsel (wat in Namibië van toepassing is) in Suid-Afrika geld, dit die beskuldiging dat pryse verwring word sodra die Staat tot die mark toetree, uit die weg sal ruim. “Dit behoort ook ’n gesindheidsverandering tussen die gevestigde boere en nuwe toetreders en die Regering tot gevolg te hê.”
Hy meen die gemengde en dikwels verwarrende boodskappe ten opsigte van eiendomsreg, die markmeganisme en nasionalisering, onsekerheid meebring en ’n ongunstige invloed op beleggings, beide plaaslik en van oorsee het.
Tydperke vir herverdeling van grond
Schoeman het die koppeling van persentasies aan tydperke by grondherverdeling as “belaglik” bestempel. “Niemand kon tot dusver ’n bevredigende antwoord vir die 30% herverdelingsteiken van kommersiële landbougrond teen 2015 verskaf nie. Ten beste was dit ‘n lukraak syfer wat in die ANC beleidsdokument voor die 1994 verkiesing opgeneem was.” Hy meen voornemende boere behoort op ’n distriksgrondslag geïdentifiseer en ge-evalueer te word, alvorens enige grond vir hulle aangekoop word.
“Die verval van infrastruktuur, veral by munisipaliteite, is kommerwekkend. Indien ‘n effektiewe omkeerstrategie nie spoedig in werking tree nie, is spookdorpe ons voorland. Dit is bemoedigend om te sien dat daar tans ‘n dringendheid bestaan om die totale verval van die land se paaie en ander infrastruktuur te stuit.”
“Sedert 1652 is daar ‘n geskiedenis van konflik, bedrog, diskriminasie, onteiening en ontneming van mense trots. Daar is ook ’n geskiedenis van deernis, opheffing deur middel van onderwys, mediese dienste, skepping van werkgeleenthede en ontwikkeling van vaardighede. Dit het tot gevolg gehad dat ‘n infrastruktuur sonder gelyke in Afrika ontwikkel is,” het hy benadruk.
22 Maart 2012