
Hewige teenkanting bou op oor burokratiese inspeksiedienste wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye besig is om op die been te bring.
Die maatskappy Prokon inspekteer reeds alle vars produkte en ’n organisasie genaamd LEAF moet alle plaaslike en ingevoerde grane en oliesade toets ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde van 1990. Drie ander maatskappye is aangewys om suiwel, gereguleerde diereprodukte en verwerkte produkte te inspekteer.
Talle briewe wat beswaar aanteken, is reeds aan mnr. Billy Makhafola, uitvoerende beampte vir dié wetgewing, geskryf en ’n dringende vergadering is met mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, aangevra.
Die bedrywe sê hulle is reeds onderhewig aan verskeie inspeksies kragtens gesondheids- en voedselveiligheidsregulasies.
Verdere inspeksies beteken onnodige uitgawes, en geen behoorlike oorleg is met hulle gepleeg nie.
* Mark-klagtes: Prokon ‘is boer se vriend’
Een van die voordele van die toepassing van regulasies op varsproduktemarkte deur Prokon, is dat die Landbouprodukte-agenteraad (Apac) meer bewyse en statistiek het het om klagtes van boere aan te spreek en op te los.
“Met Prokon se inspeksieverslae, is daar nou bewyse van gehalte van produkte en kan dispute dus makliker en meer akkuraat opgelos word. Waar ons voorheen nie bewyse gehad het as ’n produk van goeie gehalte swak hanteer is deur ’n agent nie, het ons dit nou. En indien ’n agent vals beskuldig word, het ons daardie bewyse ook. Indirek het die uitbreiding van Prokon se diens na al die varsprodukte, ons hand by Apac baie versterk,” sê me. Lizel Pretorius, registrateur van Apac. Volgens Pretorius ontvang Apac ongeveer vier klagtes per maand.