
Die varsproduktebedryf gaan ’n tweede geleentheid kry om kommentaar te lewer op die nuwe verpligte inspeksiediens by varsproduktemarkte, wat volgende jaar op 1 April in werking tree.
Dié inspeksiediens gaan deur die maatskappy Prokon behartig word, en is ingestel ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet 119 van 1990). Prokon doen reeds meer as 23 jaar inspeksies vir die aartappelbedryf nadat dié bedryf inspeksies spesifiek vanweë wetgewing in die lewe geroep het.
Landbouweekblad het vroeër berig die koste vir die inspeksies sal nie meer as 30% hoër wees as die minder as 1c wat aartappelboere per kilogram betaal nie. Mnr. Billy Makhofola, hoof van landbouproduktestandaarde by die Departement Landbou, Bosbou en Visserye, het erken die departement het aanvanklik te min tyd vir openbare kommentaar gegee ná die afkondiging van die nuwe maatreël.
“Ons wil graag die proses in werking kry, maar dit is belangrik dat alle bekommernisse uit die ganse bedryf aangepak word. Die tydperk vir kommentaar sal dus met nog 30 dae verleng word om almal ’n kans te gun om ’n bydrae te lewer,” het hy gesê.
Vergaderings
Prokon en die departement het die afgelope twee weke met verskeie bedryforganisasies en boereverenigings vergader om ontevredenheid te bespreek en vrae te beantwoord nadat honderde boere en ander bedryfslede gekla het oor die min tyd wat vir kommentaar beskikbaar was.
Makhofola en Prokon het verlede Maandag met nagenoeg 40 lede die vrugteprodusente-organisasie Subtrop vergader. “Dit is duidelik dat hierdie regulasies in die wet voorgeskryf is en dus toegepas moet word,” het mnr. Derek Donkin, die uitvoerende hoof van Subtrop, ná afloop van die vergadering gesê.
“Of dit nou Prokon of die departement se eie inspekteurs is, daar sal ’n koste aan inspeksies verbonde wees. Vir ons Subtrop-boere was die grootste kwelling die tydsberekening van die inspeksies.
“Omdat varsheid vir ons belangrik is, kan die inspeksies nie gedurende werksure gedoen word nie. Prokon het egter voorgeneem om, nes hy tans met aartappels maak, inspeksies om 04:00 elke oggend te doen sodat die inspeksies reeds afgehandel is wanneer verkope moet begin,” het Donkin gesê.