
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het Prokon aangestel om die standaarde op bemarking van alle varsprodukte in Suid-Afrika te polisieer, maar bitter min boere weet wat hierdie standaarde behels en boonop is hierdie standaarde 26 jaar oud.
Die boere van die Subtrop, die sambreelliggaam vir subtropiese gewasse, maak planne om verouderde standaarde wat in die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet 119 van 1990) voorgeskryf word, op te dateer voor 1 April 2017, wanneer hierdie wet vir die eerste keer sedert 1990 ingestel gaan word. Subtrop het op 21 November met die Departement van Landbou en Prokon vergader.
Standaarde oud
Volgens mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van Subtrop, was dit duidelik uit die vergadering dat daar geen omkeer is nie en dat die wet wel in werking sal tree.
“ ’n Knelpunt vir ons is dat die huidige amptelike standaarde, soos wat dit in die wet voorgeskryf staan, nie meer relevant is nie. Hierdie regulasies is jare gelede opgestel, maar dis nooit toegepas nie en het verouder. ’n Litchi of ’n mango van vandag lyk en smaak anders as 26 jaar gelede. Ons sal voor 1 April die standaarde saam met die Departement hersien en dit aanpas om by vandag se verbruikersvoorkeure in te skakel,” verduidelik Donkin.
Wat van kleiner kommoditeite?
Vir boere wat met kleiner gewasse, soos brassica en wortels boer, bestaan daar egter nie bedryfsorganisasies, soos Subtrop, wat hierdie verantwoordelikheid kan oorneem nie.
Volgens mnr. Rudi Engelke van Edwern-Heim-groenteboerdery op die Kaapse Vlakte, is daar selfs van sy mede-groenteboere wat nog nie eens gehoor het dat hulle ’n bykomende heffing op alle varsprodukte sal moet betaal van 1 April af nie, en dat hulle produkte aan sekere standaarde sal moet voldoen nie. “Die gradering van groentes soos wortels en beet, wat volgehou aan supermarkte gelewer word, is al goed gestandaardiseer.
“Ek sien egter ’n probleem vir dinge soos ’n bossie wortels of ’n krat vol kopkool op die mark, wat so te sê voor die voet uit die landerye bymekaar gemaak word en nie gegradeer of verpak word nie. Ek weet nie wat die wet voorskryf nie en het ook nog geen kommunikasie van die Departement of Prokon ontvang in die verband nie,” verduidelik Engelke.
“Dis geld mors”
Mnr. Carl Gathmann, ’n brassicaboer van KwaZulu-Natal se Middellande, is bekommerd oor die komende tariewe. “Logika en sin sal seëvier. Daar is te min brassicaboere om ’n kommoditeitsorganisasie staan te maak, maar ons almal is al jare in die bedryf en voldoen lank reeds aan baie streng die standaarde net om ons produkte op winkelrakke te kry.
“Ek dink die proses is geldmors, juis omdat meeste boere reeds aan Globalgap of ander gehaltebeheer-stelsels gehoor gee. Ek voel amper in die gesig gevat dat hierdie wet nou, na jare, op ons afgedwing word. Maar daar is seker meriete, as jy ingedagte hou dat daar boere is wat nie die verskil tussen ’n rooi- en ’n groen-etiket gifstof ken nie,” verduidelik Gathmann.