
“Dit is ’n baie groot verlies en ons is hartseer oor sy heengaan. Mike was ’n absolute ensiklopedie vir die varsproduktebedryf. Hy het alles geweet en verstaan hoe dit werk,” sê mnr. Francois Knowles, registrateur by die landbouprodukteagenteraad (Apac). “Hy was ’n baie aangename mens.”
Volgens Knowles het Cordes ’n baie belangrike rol gespeel om agente in die varsproduktebedryf op te lei. Hy was lank ook die diensverskaffer om opleiding vir agente in die varsproduktemark reg oor Suid-Afrika te bestuur.
“Al die agente wat ons oppas, het deur sy hande gegaan. Hy was die een wat seker gemaak het die agente se vaardighede word opgebou en weet wat die wette en reëls vereis waaraan hulle moet voldoen.”
Die opleidingsplatform is later elektronies gemaak, en Cordes het ’n baie belangrike rol daarin gespeel, sê Knowles.
Daarby was hy ook die algemene bestuurder by die Instituut vir Markagente van Suid-Afrika (Imasa). Cordes was vroeër ook betrokke as markagent en -bestuurder in die bedryf.
Behalwe sy rol in die varsproduktebedryf het Cordes ook gereeld vir die publikasie Farmer’s Weekly geskryf. Hy het ook gereelde artikels vir een van Landbouweekblad se vorige susterstydskrifte, Farming SA, geskryf.