
Die feit dat die landbou slegs 2% tot die bruto binnelandse produk (BBP) bydra, is genoeg rede om grond sommer môre te onteien, sê mnr. Andile Mngxitama, ’n EFF-LP.
Die EFF is een van die opposisiepartye wat waarsku teen die Regering se voorstel dat boere 50% van hulle grond aan plaaswerkers moet gee, sonder dat enige beskerming teen die afsetting van plaaswerkers by die voorstel ingeskryf is.
Die voorstel is vervat in die “Finale beleidsvoorstelle oor die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk”. Hoewel hierdie tans net ‘n besprekingsdokument is, meen Mngxitama dat die “dokument glad nie een is om grond te herverdeel nie, maar deel is van ‘n program van grondonteiening”.
As die Regering ernstig was met die voorstel om 50% van ’n boer se grond aan sy plaaswerkers te gee, sou dit ‘n vinnige proses gewees het, met ‘n moratorium op die uitsetting van plaaswerkers. Maar nou kry die boer kans tot April volgende jaar om plaaswerkers weg te jaag, sê hy.
“Meer as ‘n miljoen plaaswerkers is sedert 1994 weggejaag, die ANC is goed daarmee om wit kapitaal te beskerm. Dié voorstel is om die belange van die wit boer te beskerm.
“Hulle self (die boer) kan dit nou nie sien nie, maar sal die ANC later hiervoor bedank.” Hy verduidelik sy redenasie verder. “Die beleidsvoorstel wil hê dat boere 80% van die land se landbougrond met 700 000 plaaswerkers deel. Dit terwyl daar meer as 22 miljoen grondhonger swart mense in die land is.
“Die beleidsvoorstel vermy die historiese vraag oor die grondkwessie.
“Dit maak nie saak of jy ‘n plaaswerker of township-bewoner is nie. Jy het ‘n historiese eis op die grond.” Die EFF stel voor dat alle landbougrond onteien word en dan tussen alle Suid-Afrikaners wat wil boer, verdeel word. “Baie gedeeltes van die plase word gehou vir dinge, soos spekulasie.”
Die EFF sê hy sal toesien dat diegene wat kos produseer, kan voortgaan om dit te doen. Verder moet subsidies teruggebring word en basiese produkte wat belangrik vir oorlewing is, soos brood, mieliemeel, melk en eiers, moenie aan massiewe markskommelings onderwerp word nie.
“As jy sorg vir jou boere, dan sal hulle produseer,” het Mngxitama ter afsluiting gesê.