
Die Suid-Afrikaanse landboubedryf was nie aandadig aan die resessie waarin die land hom tans begeef nie, en die TLU SA wil die hele landboubedryf en alle boere gelukwens met die prestasie om die landbousektor te laat groei met meer as 22%, terwyl dit met die res van die land sleg gaan.
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, sê in 'n nuusverklaring hierdie is 'n merkwaardige pluimpie vir die landbou. Dit wys op die deursettingsvermoë van boere om ten spyte van klimatologiese en politieke probleme, steeds een van twee sektore te wees wat groei terwyl die land in resessie verkeer.
“Hierdie inligting volg kort op die hakke van pres. Jacob Zuma se erkenning dat grondeisers nie in grond belangstel nie, maar dat die meerderheid grondeise op finansiële basis skik.
Herstel wet en orde
“Dalk het dit nou vir die Regering tyd geword om te kyk wat hy kan doen om die land weer op pad na groei te bring, om die rommelstatus af te skud en wet en orde te herstel, in plaas daarvan om gedurig ‘n aanval op die boere en hulle grond te loods. Dit, terwyl dit duidelik is dat die sogenaamde grondhonger nie werklik bestaan nie maar eerder ‘n geldhonger is, terwyl die bestaande kommersiële boere feitlik die enigste is wat nog ekonomiese sukses behaal, bo en behalwe die feit dat hulle steeds kos op die tafel sit.
“Daarom word dit tyd dat die Regering die boere uitlos en toelaat om te boer, sonder om politieke bedreigings voor hulle op te stapel,” sê Meintjes.
Theo Venter by RPO-kongres
* Uit Kimberley berig Johan Norval dat mnr. Theo Venter, beleidspeslialis van die Noordwes-universiteit, gesê het die landbou bevind hom tans in 'n baie onseker wêreld. "Maar die landbou is die goeie nuus, want die bedryf is die deel van die ekonomie wat groei terwyl die res van die ekonomie in resessie is."
"Indien 'n spreekwoordelike held vanjaar uitgesonder moet word, is dit die landbou," het hy aan afgevaardigdes op die Noord-Kaapse kongres van die RPO in Kimberley uitgewys.
Hedendaagse politiek
Venter het ook die verlammende uitwerking van die hedendaagse politiek op besluitneming uitgewys. "Geen beleid word op die oomblik in werking gestel nie, want ons wag op die verwagte beleidsverandering wat oor 'n maand deur die ANC bespreek word," sê hy. Die ANC-beleid moet in Desember deur die organisasie aanvaar en in 2018 uitgevoer word.
"Op die oomblik trap almal water en niks gebeur nie. Vir die landbou is die gegewe 'n baie slegte situasie, want daar is nie oplossings vir brandende kwessies terwyl die ANC in 'n oorlewingstryd is nie."
Venter het landbouers aangeraai om op die sake te fokus waarmee hulle goed vaar en daarop te verbeter: "Daar is baie min wat julle anders kan doen," sê hy.