’n Wees renosterkalfie, wie se ma in Junie 2011 deur stropers doodgeskiet is, is geopereer om katarakte van albei sy oë te verwyder.
Dié bulkalfie, Roccy, is agt maande oud en het blind geword as gevolg van dié katarakte. Volgens me. Yvonne Gioia, sy eienaar, gaan dit hom omtrent ’n week kos om van die operasie, wat ’n uur en ’n half lank geduur het, te herstel.
Roccy en sy ma is op 19 Junie buite Hoedspruit aangeval, berig Beeld. Sy ma is 12 keer geskiet en haar horings is afgekap. Roccy is tydens die aanval oor die kop geslaan. Hy het daarna katarakte ontwikkel.
Operasie verloop goed
Volgens dr. Antony Goodhead, die veearts wat die katarakte verwyder het, is daar verskeie redes wat moontlik die katarakte kon veroorsaak het.
“Die belangrike ding is dat ons Roccy kan help,” sê hy. Goodhead is tevrede met hoe die operasie verloop het.
Roccy was glo baie verward voor hy verdoof is en moes met ’n groot bottel melk uit die vragmotor waarin hy vervoer is, gelok word.
Bron: Beeld
6 Januarie 2012