Die uitbreking van bek-en-klouseer in die noorde van KwaZulu-Natal in Februarie het opnuut weer die soeklig op die tekort aan staatsveeartse in die land geplaas. Gelukkig behoort die land teen volgende jaar reeds beter beheer op dieresiektes te kan toepas met meer staatsveeartse wat aangestel gaan word.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het in haar begrotingstoespraak bekend gemaak dat haar departement beoog om honderd meer veeartse teen volgende jaar te hê.
Die uitbreking van bek-en-klouseer is intussen onder beheer gebring. Ná intensiewe ondersoeke en waarneming het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye besluit om beperkings op die beweging van vleis en vleisprodukte te verslap. Die verbod op die beweging van lewende diere is egter steeds van toepassing.
Altesaam 64 597 beeste is ingeënt. “Ons is in beheer van die situasie en daar is geen rede tot paniek nie,” het Joemat-Pettersson gesê.
Onderhandelinge het reeds begin sodat vlees en diereprodukte weer uitgevoer kan word. Lande, soos Botswana, die Eiland van St. Helena, Lesotho, Zambië, Mauritius en Namibië, het aangedui dat hulle geen probleme het om Suid-Afrika se vleis in te neem nie.
Joemat-Pettersson het aangedui dat die veeartse uit die poel van nuwe gegradueerdes bekom sal word. Die Wet op Veterinêre en Para-veterinêre Beroepe (Wet 19 van 1982) sal gewysig word sodat veeartse verplig sal word om ’n jaar lank gemeenskapsdiens te lewer.
Hulle sal strategies in die land geplaas word, veral in die landelike gebiede waar ’n groot tekort aan staatsveeartse voorkom, het sy aangedui.
Dit is veral die landelike gebiede waar ’n groot tekort aan veeartse voorkom.
Huidige studente in veeartsenykunde sal egter nie verplig word om diens te doen nie. Slegs studente wat volgende jaar in die rigting begin studeer, sal geraak word.
Joemat-Pettersson het aangedui dat huidige studente wat ná hul studie nie werk kan kry nie, deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in diens geneem sal word.
Die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad (SAVR) en kleinskaalse boere het hierdie planne van die departement verwelkom, want met meer veeartse sal beter voedselveiligheid en siektebeheer toegepas kan word.
Daar is 3 000 geregistreerde veeartse in die land waarvan sowat 10% in die landelike gebiede is. Daar is slegs 247 staatsveeartse in die land het sy gesê.
Die departement het altesaam R80 miljoen vir die huidige boekjaar en R120 miljoen vir die daaropvolgende jaar begroot om te verseker dat indiensnemingsprogram suksesvol is.
Die departement se totale begroting is R4,7 miljard, waarvan slegs 16,5% van sy begroting vir administrasie gaan.
19 April 2011