Die veeartsenydiens en die hantering van dieresiektes deur die Regering gaan in diepte ondersoek word, sê Agri SA. Mnr. Dawie Maree, ’n woordvoerder vir die organisasie, sê hulle het besluit om die ondersoek te doen nadat hulle verskeie klagtes ontvang het van gebreke in die staatsveeartsdiens en die hantering van die uitbrekings van verskeie dieresiektes die afgelope twee maande.
Maree sê van die terugvoer wat hulle tot dusver gekry het, is dat daar nie genoeg staatsveeartse op provinsiale vlak is om die probleme te hanteer nie. “Agri SA sal met die samewerking van organisasies in die veebedryf ’n volledige ondersoek na die staatsveeartsenydiens doen en ’n nasionale aksieplan opstel om uitbrekings van siektes van die aard te hanteer.”
’n Dure les
Mnr. Johannes Möller, die voorsitter van Agri SA, sê die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal (KZN) en die gevolglike uitwerking daarvan op uitvoer en die land se ekonomie, is ’n dure les vir die staat en die burgerlike samelewing. “Ons waarsku al baie jare lank dat die gebrek aan behoorlike grensheinings ons duur te staan gaan kom, en dié is ’n dure les.”
Möller sê die uitwerking wat die siekte op die landbou het, beklemtoon die feit dat die sektor “erg onder-gefinansier” word deur die Regering. Hy sê hulle het ’n vergadering met me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gevra om te bepaal watter rolle deur watter instansies ten opsigte van dieresiektes vervul moet word.
“Ons moet so vinnig moontlik ons status as vry van bek-en-klouseer terugkry, want die uitvoerverbod op diere met gesplete hoewe pootjie tans verskeie bedrywe in die landbou,” aldus Möller.
Swak kommunikasie
Mnr. Robin Barnsley, die voorsitter van Kwanalu, sê groot kommunikasiegapings bestaan glo tussen die nasionale departement, die taakspan wat na KwaZulu-Natal gestuur is en die provinsiale departement, en kommunikasie met die georganiseerde landbou is gebrekkig.
Barnsley sê hulle is bekommerd daaroor dat die gebied nie behoorlik afgesper is nie. “Die siekte het in die noorde begin, in meestal landelike gebiede waar diere meestal net vir eiendom aangehou word en nie voluit mee geboer word nie. Dit is nou al suid van die Umfolozi, waar kommersiële boerderye bedryf word. Daar’s net nog geen einde in sig nie en daai boere sit tans weens die verbod op uitvoer en vervoer sonder enige kontantvloei.”
17 Maart 2011