
Dit is belaglik dat dit langer as drie maande duur om ’n veeartsenykundige middel te registreer as al die dokumente ter stawing van die produk in orde is, sê dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF).
Tog kon die forum ondanks gereelde vergaderings met Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) en die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Veeartsenykunde nog nie vasstel of die registrasieproses die rede is vir die vertraagde kommersialisering van die OBP se hartwater-entstof nie.
Die forum het ’n komitee op die been gebring om die produksie van die entstof te bespoedig. Hy beoog om studente van die Universiteit van Pretoria te betrek om daarmee te help.
Bokhaar
Vervoort het gewaarsku dat hartwater in ’n groot probleem ontaard – veral in dele van die land waar dit nooit voorheen voorgekom het nie. Die grootste probleem is in die Oos-Kaap, waar die Sybokhaartelersvereniging groot verliese weens dié siekte aangeteken het. Dié vereniging was ook een van die eerste organisasies wat reeds in 2012 geld bewillig het vir die ontwikkeling van ’n hartwater-entstof.
“Ons kan dus nie vyf jaar wag vir die entstof nie. Dit moet so gou moontlik in produksie gestel word,” sê hy. Mnr. Cas Breedt, voorsitter van Noordwes se dieregesondheidsforum, het gesê dele van dié provinsie loop ook reeds deur onder hartwater. “Boere koop dan twee of drie bokse antibiotika en spuit hul diere elke maand in. Dit kan nie so aangaan nie,” het hy gesê.
‘Gee OBP kans’
Daar is reeds bemoedigende tekens dat die OBP aan die verbeter is, het dr. John Adam van die SA Veterinêre Raad (SAVR) aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye gesê. Hy sê die OBP se nuwe struktuur moet ’n kans gegun word om te bewys dat hy sy werk behoorlik kan doen.
Hy sê die raad was beïndruk met die OBP se reaksie ná ’n onlangse uitbreking van slapsiekte, ’n geslagsiekte by perde, toe die maatskappy kon help met ’n behandelingsmiddel wat kortgekom het. “Ons kon na die nuwe OBP gaan en met hom praat en hy het die probleem vir ons opgelos.”
• Berig deur Gerrit Bezuidenhout en Joylene Van Wyk