
Die Suid-Afrikaanse veebedryf, die vleis- en suiwelbedrywe en hul onderskeie waardekettings sal ten toon gestel word by die Agri-Expo Livestock wat van 12 tot 14 Oktober by Sandringham buite Stellenbosch sal plaasvind.
Dié geleentheid sal spog met die beste kaas, wyn, boerbokvleis, skaapstertjies, afval en ander spogprodukte uit die onderskeie bedrywe.
Die grootste interraskompetisie vir suiwel- en vleisbeeste sal ook plaasvind, met ander aktiwiteite soos 'n streekjeugskou, vleisbees- en melkbokinligtingsdag, 'n jong-afslaerskompetisie en 'n veiling vir miniatuur perde- en donkies wat ook sal plaasvind.
Die kroning van die Suiwelkoningin en Rooivleiskoning of -koningin kom op 14 Oktober aan die beurt.
Geleentheid vir die gesin
Dit is ook 'n ideale geleentheid vir gesinne om by te woon, met 'n omvattende skoolopvoedingsprogram wat ontwikkel is om kinders se kennis oor die bedrywe aan te vul.
Skoolgroepe wat vooraf registreer sal gratis toegang kry op 13 en 14 Oktober. Kontak Claudine Wagner vir dié registrasie by 021-975 4440 of Claudine@agriexpo.co.za.
Hekke sal daagliks van 09:00 tot 18:00 oop wees en kaartjies kan deur Computicket gekoop word. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za of kontak Agri-Expo by 021-975 4440 of admin@agriexpo.co.za.