Die veebedryf het vanaf 1 April 2010 tot einde Maart vanjaar verliese van meer as R377 miljoen gely weens veediefstal.
Dié statistiek is op ’n vergadering van die nasionale Veediefstalforum in Pretoria bekend gemaak. Meer as 60 000 beeste is landwyd gesteel, waarvan 26 458 teruggevind is.
Meer teruggevind
Dit is ’n toename van 6% in beeste wat teruggevind is vergeleke met die vorige tydperk. Skape wat teruggevind is, het daarteenoor met 4% gedaal met 71 476 van die 90 017 gesteelde skape wat nie teruggevind is nie.
Van die 35 995 gesteelde bokke is slegs 10 078 teruggevind. Van die brandpunte vir veediefstal is agt gebiede in die Oos-Kaap waar 18 veediefstaleenhede is, ses gebiede in KwaZulu-Natal waar 16 veediefstaleenhede is, twee in Mpumalanga (agt veediefstaleenhede) en een in die Vrystaat (elf veediefstaleenhede).
Mnr. Jaco Maré, voorsitter van die nasionale Veediefstalforum, sê nog ’n probleem is dat boere wat rondloperhonde skiet, al hoe meer vervolg word. Dít terwyl sommige mense steeds onwettig met honde jag, maar hulle word glo nie vervolg nie.
Hantering van rondloperhonde
Agri SA stel nou saam met die veebedryf riglyne op oor boere se hantering van rondloperhonde. Maré sê die bedryf is dankbaar dat die politieke wil bestaan om veediefstal te bestry en begrotings goedgekeur is om die vermoë van die eenhede uit te brei.
Die forum poog dat bekwame aanklaers aangestel word om veediefstalsake te hanteer. Boere word aangeraai om die Dierebeskermingsvereniging vir leiding oor bykomende klagte te kontak in gevalle van dieremishandeling tydens diefstalle, wat al hoe meer voorkom. Die kontakbesonderhede kan by farm@nspca.co.za gekry word.
2 Desember 2011