
Die landelike veiligheidspan by Magaliesburg-polisie het op Maandag 11 April ’n 46-jarige man by Kaalfontein, Gauteng, vir veediefstal in hegtenis geneem.
Die polisie het met die samewerking van ’n verteenwoordiger van die veediefstal-inligtingsentrum inligting oor veediefstal op ’n plaas by Kaalfontein opgevolg.
Die span het afgekom op ’n verdagte wit minibustaxi in die veld. Nadat verdere ondersoek ingestel is, is 17 skape in die minibustaxi gevind en die verdagte in hegtenis geneem. Die polisie probeer nog vasstel of hy met soortgelyke gevalle in en om Gauteng verbind kan word.
Lt.kol. Mawewe Vuma, stasiebevelvoerder by Magaliesburg-polisie, het die opspoor van die skape en die inhegtenisneming van die verdagte geprys.