
Die verdagtes, Petros Mbedzi (41), Phenuel Ndou (36), Hulisani Mbedzi (36) en Bokans Mave (36), het op Dinsdag 19 April in die Polokwane-landdroshof op klagte van veediefstal en oortreding van immigrasiewetgewing verskyn. Hul aansoek om borgtog is van die hand gewys. Die verhoor is tot Vrydag 29 April uitgestel.
Polisiebeamptes van die afdeling korporatiewe kommunikasie en administratiewe dienste het die verdagtes se voertuig met ’n sleepwa opgemerk en voorgekeer.
Nadat die verdagtes nie daarin kon slaag om die nodige dokumentasie te verskaf om eienaarskap van die 52 bokke en vier skape in die sleepwa te bewys nie, is hulle in hegtenis geneem en daar is op hul voertuig en sleepwa beslag gelê.
Voorlopige ondersoeke het bevind dat die verdagtes onwettig in die land is en dat die vee in Zimbabwe gesteel het. Hulle wou dit in Gauteng verkoop.
Ná verdere ondersoek is 28 gesteelde bokke op ’n hoewe by Vereeniging gevind.
Die polisie het leidrade opgevolg en by Musina in Limpopo ’n verdere 116 bokke opgespoor wat vermoedelik ook in Zimbabwe gesteel is. Die vee is geskut. Vermoedelik wou die diewe hierdie bokke brandmerk en later na Gauteng vervoer.
Die ondersoek duur voort.