
Volgens die beskikbare syfers bereik die polisie egter hul doelwit vir die oplos van dié sake.
Veeboerdery is ’n integrale deel van die landbousektor. Veediefstal knou egter veeboere in Suid-Afrika en is buite beheer aangesien die polisie die stryd verloor om dit behoorlik te ondersoek, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Groenewald het onlangs in ’n parlementêre vraag aan mnr. Bheki Cele, minister van polisie, gevra hoeveel veediefstalsake in elke provinsie sedert die begin van die 2017-boekjaar opgelos is.
Volgens Cele is 26 923 veediefstalsake in die tydperk van 1 April 2021 tot 28 Februarie 2022 by veediefstaleenhede aangemeld. Van hierdie sake is slegs 7 800 of 28,9% opgelos.
Die provinsie met die meeste klagte in die betrokke tydperk was KwaZulu-Natal met 7 227 aangemelde sake, gevolg deur die Oos-Kaap met 5 533 sake. Onderskeidelik 2 200 (sowat 30%) en 1 767 (sowat 32%) van dié sake is opgelos.
Die provinsie met die swakste oplossingsyfer is Limpopo met slegs 16,5%, gevolg deur Gauteng met 16,9%.
Groenewald sê boere meen ’n tekort aan mannekrag, voertuie en kundigheid speel ’n groot rol in veediefstaleenhede se ondoeltreffendheid. Korrupsie en bewerings dat senior polisiebeamptes self by diefstalsindikate betrokke is, vererger die situasie verder.
“Daar sal drasties opgetree moet word en genl. Fannie Masemola, nuwe kommissaris van polisie, sal moet sê watter stappe hy gaan doen om die probleem op te los.”
Polisie bereik doelwit
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê elke dier wat gesteel word, is ’n dier te veel. Weerlig kan eerder ’n dier doodslaan as dat dit gesteel word.
Wanneer daar egter in ag geneem word dat die polisie se doelwit vir die oplos van veediefstalsake 28% is, beteken dit dat die polisie hul doelwit bereik. “In die geval van ander ekonomiese misdade is die doelwit van sowat 14% veel laer as vir veediefstal. Die doelwit van 28% is al die afgelope 20 jaar die doelwit en dit word al vir jare bereik. Is dit buite beheer as die status quo gehandhaaf word?”
Clack sê Cele se antwoord aan Groenewald is eintlik niksseggend aangesien die polisie “opgelos” en “bespeur” as sinonieme beskou. Die bespeuringskoers meet die polisie se vermoë om misdaad deur ’n ondersoek op te los.
Volgens hom beskou die polisie ’n saak as suksesvol ondersoek indien ’n verdagte geïdentifiseer, in hegtenis geneem en aangekla is; die klag onttrek word voor die misdadiger aangekla kan word; die staatsaanklaer besluit om nie met geregtelike vervolging voort te gaan nie; of ondersoeke as ongegrond afgemaak word en gesluit word.
“Om te vra hoeveel mense in hegtenis geneem is, is net so ’n nagmerrie, want hulle gaan vir jou sê vir 20 sake is 20 mense in hegtenis geneem. Daar is egter nie ’n aanduiding of dit een inhegtenisneming per saak is en of 20 mense vir een saak in hegtenis geneem is nie.
“Die aantal suksesvolle vervolgings skep net so ’n dilemma aangesien sommige sake tot 10 jaar voor die howe dien voor ’n skuldigbevinding.”