
In dele van dié provinsie het dit so erg geword dat die polisie, private sekuriteitsmaatskappye, en vee-eienaars wat diere probeer opspoor, nie meer die gebiede betree nie.
Só het mnr. Freddie van Tonder, veediefstalkonsultant vir die Rooivleisprodusente-organisasie in KwaZulu-Natal, op die organisasie se kongres op Fordoun gesê. Hy is ’n voormalige bevelvoerder van ’n veediefstaleenheid van die polisie.
Volgens Van Tonder is die jongste veediefstalbrandpunte in die provinsie die distrikte Amangwe, Loskop, Utrecht, Vryheid, Ladysmith, Dannhauser en Bergville.
Met verwysing na inligting verskaf deur mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, het Van Tonder gesê hoewel aangemelde gevalle van beesdiefstal in KwaZulu-Natal in die 2021-’22-boekjaar met 5,66% afgeneem het teenoor die 2020-’21-boekjaar, het skaapdiefstal oor dieselfde periode met 16,71% toegeneem en bokdiefstal met 14,93%.
“Ons is nie seker of die aangemelde beesdiefstalle afgeneem het nie omdat vee-eienaars nie meer voorvalle by die polisie aanmeld nie. Ons weet ook nie of die verhogings vir skaap- en bokdiefstalle die gevolg is daarvan dat meer van die eienaars nou kies om hul diefstalle aan te meld nie. Ja, ons het ’n probleem met die polisie. Hulle het ’n gebrek aan hulpbronne en word swak ondersteun van beide provinsiale en nasionale vlak. Ons probeer om dit opgelos te kry.”
Hy het die provinsie se vee-eienaars gemaan om versigtig te wees wanneer hulle hul gesteelde vee naspoor. Daar is bevestigde gevalle waar vee-eienaars tydens hierdie soektogte deur veediewe vermoor is.
In ’n nie-amptelike verslag het ’n afgevaardigde van die vloer af gesê plaaslike vee-eienaarsverenigings, veral in die provinsie se kommunale gebiede, neem soms die reg in eie hande as hulle veediewe vang. Hierdie vermeende veediewe is soms erg aangerand en/of vermoor deur die vee-eienaars wat nie meer vertroue het in die polisie se vermoë om veediefstal te takel nie.
“Meld asseblief elke enkele geval van veediefstal by jou plaaslike polisiekantoor aan en dring daarop aan om ’n saaknommer te kry,” het Van Tonder gesê. “Hierdie statistieke is nodig sodat ons die polisie akkuraat kan wys hoe erg die probleem is en in watter gebiede dit die ergste is. Gee die saaknommers ook aan jou plaaslike boerevereniging deur,”
Hy het alle vee-eienaars versoek om ’n geregistreerde brandmerk op hul vee te tatoeëer wanneer die dier een maand oud en nog te jonk is vir brandmerke. Veediefstalsindikate het begin om jong diere wat nog nie gemerk is nie, te steel en dan hul eie geregistreerde brandmerke daarop te tatoeëer. Dit word dan byna onmoontlik vir die wettige eienaars om eienaarskap te bewys.