
By die bekendmaking van hoe die misdaadsituasie in die land sedert 1 April 2015 tot 31 Maart 2016 daar uitgesien het, is aangedui dat veediefstal, wat 'n misdaad teen eiendom is, die afgelope tien jaar met 1% afgeneem het.
In die 2014/'15 boekjaar was daar 24 965 voorvalle van veediefstal en dit het in die 2015/'16 boekjaar na 24 715 gedaal. Goeie nuus is dat hierdie misdaad in drie provinsies afgeneem het: In die Oos-Kaap met 4,6%, in die Vrystaat met 1,7% en in KwaZulu-Natal met 3,8%.
Maar dit blyk steeds 'n groot probleem te wees in die res van die provinsies. In Gauteng het dit toegeneem met 2,1%, Limpopo met 5,4%, Mpumalanga 6,6%, Noordwes 1,2%, die Wes-Kaap 3,6% en die Noord-Kaap 0,1%.
Plaasmoorde
Landbou.com het reeds berig dat die hoeveelheid aangemelde moorde wat op plase en kleinhoewes plaasgevind het die afgelope ses jaar van 80 in die 2010/’11 boekjaar tot 49 in 2015/’16 afgeneem het. Gedurende die 2015/’16-boekjaar is elf plaasmoorde in Gauteng aangemeld, nege in Limpopo, sewe in KwaZulu-Natal, ses in die Noordwes, vyf in die Wes-Kaap en die Vrystaat, vier in die Oos-Kaap en een elk in die Noord-Kaap en Mpumalanga.
Voorvalle van geweld op plase en kleinhoewe was in die daaropvolgende boekjare vanaf 2010/’11 tot die 2015/’16 boekjaar onderskeidelik 532, 523, 567, 517, 490 en 446.
Kontakmisdade, wat moord en aanrandings insluit en misdaad teen eiendom, soos veediefstal, en vandalisme is van die ergste misdade wat boere oor die algemeen onderwerp word.