Die Polisie se misdaadstatistiek toon dat veediefstal vir die 2009/’10-boekjaar met 6,5% toegeneem het, terwyl moord en roof afgeneem het.
Mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, het dié statistiek Donderdag (9 September) in Pretoria bekend gemaak.
Volgens Mthethwa toon verlede jaar se misdaadstatistiek ‘n toename in veediefstal waargeneem. “Ons is bekommerd oor die feit dat dié neiging nie afgeneem het nie,” sê Mthethwa.
Hy sê daar is egter reeds inisiatiewe in dié verband van stapel gestuur, soos om met gemeenskappe wat die hardste getref word kontak te maak en om die werking van veediefstaleenhede na te gaan.
Afname in moord, gewapende rowe en seksuele misdrywe
Die minister sê wat moord aanbetref is ‘n daling van 8,6% aangeteken. Hy sê vir die eerste keer in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) lê die moordsyfer vir die jaar onder die 17 000 teiken, teenoor die getal van 26 877 in die 1995/’96-boekjaar.
Hy sê ‘n totaal van 11 834 moordenaars is in die 2009/’10-jaar aangekeer. Plaasmoorde word ook in dié afdeling as ‘n moord aangeteken.
Poging tot moord het ook ‘n afname van 6,1% aangeteken, met 7 062 arrestasies wat gemaak is.
Wat seksuele misdrywe aanbetref is ‘n daling van 4,4% aangeteken, met 26 311 arrestasies wat gemaak is. Mthethwa sê hy is positief oor dié daling, en meen dat dié syfer baie laer sal wees as die Polisie meer kan doen om dié sort misdrywe te bekamp.
Wat gewapende rowe soos kapings en aanvalle - ook gewapende aanvalle op plase - aanbetref, is dalings van onderskeidelik 6,8% en 7,5% aangeteken. Bankrowe, transitorooftogte en gewapende aanvalle op straat het ook afgeneem.
Huisbraak neem toe
Rakende huisbrake is ‘n styging van 2,7% opgemerk. Mthethwa sê hy is egter bly om te sien dat dié syfer meer gemagtigd is, aangesien dit syfer die vorige vyf jaar met gemiddeld 25% per jaar gestyg het.
Kommersële misdade het met 8.1% toegeneem. Mthethwa sê volgens wêreldstatistiek is dit duidelik dat dié tipe misdaad internasionaal toeneem. Hy sê die SAPD neem op ‘n nasionale en internasionale vlak aan besprekings deel om dit te probeer bekamp.
Toename in dood van beamptes
Mthethwa sê ongelukkig is ‘n styging in lewensverlies van beamptes aan diens aangeteken. Hy sê in die 2009/’10-jaar het 110 polisiebeamptes aan diens gesterf, terwyl 107 beampte-verliese in die 2008/’09-statistiek aangeteken is. Hy sê hulle is bekommerd oor dié toename: “Een polisielid se lewe verlore is een te veel.”
Die minister het sy dank betuig aan gemeenskappe se pogings om misdaad te bestry. Hy sê baie forums vir gemeenskapspolisiëring staan die Polisie in sy stryd by.
10 September 2010