
Volgens die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum (NVVK) is daar ’n groot toename in veediefstal en dat die nie-aanmelding van dié misdaad bly ’n bron van kommer.
“Statistiek Suid-Afrika het aangedui dat 36.3% van veediefstalsake in 2011 nie deur die slagoffers aangemeld is nie. Dié syfer het in 2012 na 40,1% gestyg en in 2013 het dit drasties gestyg tot 63%,” lui ’n mediaverklaring van die NVVK.
“Die verskynsel is nie in 2014 se opname van die slagoffers van misdaad ontleed nie, maar Lombaard (2014) het bevind dat 75% van skaapdiefstalsake in die Vrystaat nie aangemeld word nie. Selfs dié syfers word bevraagteken, aangesien inligting wat deur die provinsies verskaf is, daarop dui dat die nie-aanmelding van veediefstalsake in so ’n mate toeneem dat dit in sommige distrikte so hoog as tussen 80% en 85% is. Statistiek Suid-Afrika het in 2015 bevestig dat die nie-aanmeldingskoers tot 67,7% gestyg het,” lui die verklaring verder.
Die NVVK rig ’n pleidooi aan boere om sake van veediefstal by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te meld aangesien die probleem vererger. In brandpuntgebiede moet vee meer as een keer per dag getel word.
“Die gebiede wat tans geteiken word, is Gauteng, met spesifieke verwysing na Nigel, Devon, Heildelberg, Vereeniging, Barrage en Fochville. In Noordwes word gebiede soos Lindequedrift, Potchefstroom en Ventersdorp geteiken en in die Vrystaat word Heilbron, Edenville, Koppies, Kroonstad en Parys geteiken. Dit is glad nie vreemd om te sien dat groot getalle skape en beeste by produsente gesteel word nie, byvoorbeeld 45 skape in Edenville en 35 skape in Nigel/Devon. In die Nigel/Devon-gebiede word daar snags tussen drie tot 12 beeste geslag en in die weste van Gauteng en Noordwes, is dit nie vreemd dat beeste gesteel word en oor groot afstande vervoer word nie.”