
’n Verdagte verskyn vandag in die landdroshof op Kokstad nadat hy onlangs met vermoedelik gesteelde skape in sy besit in hegtenis geneem is. Altesaam 29 skape, waarvan twee reeds geslag was, is by die 35-jarige man gevind. Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê die skape is vroeër in Maart in die distrikte Kokstad en Swartberg as gesteel aangemeld.
Mbele sê luidens ’n verklaring die Kokstad-veediefstaleenheid, wat deur die Kokstad-honde-eenheid bygestaan is, het inligting opgevolg wat hulle na Emabhusheni, naby Bizana in die Oos-Kaap sowat 85 km vanaf Kokstad, gelei het.
“Die gesteelde skape is in die verdagte se erf gevind. Hy is in hegtenis geneem vir veediefstal. Die verdagte sal ondervra word om vas te stel of hy verbind kan word met ander sake wat in die distrik Harry Gwala en omliggende gebiede aangemeld is. Nog inhegtenisnemings word verwag.”