
Kapt. Lorraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die drie mans is Donderdag 9 Maart in hegtenis geneem kort nadat 104 skape by ’n plaas in Bloemfontein gesteel is.
Die waarnemende bevelvoerder van die polisie in Bloemfontein se honde-eenheid was volgens haar op pad Selosesha toe toe hy deur mense langs die pad voorgekeer is.
Hulle het inligting met hom gedeel oor Merinoskape wat op ’n plaas in Bloemspruit gesteel en na ’n ander plaas langs die N8-pad geneem is. Die verdagtes was op daardie stadium glo besig om die skape te laai.
Die beampte is saam met ’n skaapwagter na die plaas waar hulle ’n wit bakkie met ’n sleepwa gevind het waarin 28 skape gelaai was. Die skaapwagter het die skape as syne geïdentifiseer.
Die honde- en veediefstal-eenheid se hulp is ingeroep en ’n verdere 76 skape is op ’n ander nabygeleë plaas gevind. Die totale waarde van die skape word op R260 000 beraam.
Drie verdagtes, ’n 21-, 45- en 55-jarige, is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op die bakkie en sleepwa.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.