Die politieke motivering bestaan om veediefstal aan te pak, en terwyl veediefstalforums doeltreffend funksioneer, word beoog om die kapasiteit van veediefstaleenhede uit te brei.
Só sê mnr. Jaco Maré, nasionale veediefstalforumvoorsitter. Luidens ’n nuusverklaring het die forum onlangs met alle belanghebbendes in Pretoria vergader, en Maré sê hy is oortuig dat die provinsiale forums hulle goed van hul taak kwyt.
Statistiek
Volgens die jongste statistiek het die totale verliese weens veediefstal van 1 April verlede jaar tot 31 Maart vanjaar op R387 119 miljoen te staan gekom. In dié tydperk is 131 535 beeste, skape en bokke gesteel.
Die diefstal van beeste in die boekjaar het gestabiliseer, terwyl terugvindings van beeste met 6% toegeneem het. Skaapdiefstalle het vergeleke met die vorige boekjaar konstant gebly, terwyl die terugvindings van dié diere met 4% gedaal het.
Probleemgebiede
Die grootste probleemgebiede, waar die meeste veediefstal in dié tydperk aangemeld is, was in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Mpumalanga.
In die Oos-Kaap sluit dit die distrikte Tsolo, Maluti, Mthatha, Nqgeleni, Namakwe, Sulenkama, Qumbo en Bityi in, terwyl die probleemgebiede in KwaZulu-Natal Bergville, Bulwer, Ladysmith, Dannhauser, Ezakheni en Utrecht is. Amersfoort en Ermelo in Mpumalanga en Harrismith in die Vrystaat word ook op dié lys genoem.
Altesame 81 veediefstaleenhede kom tans landwyd voor, en die forum het met groot dank kennis geneem dat begrotings goedgekeur is om die eenhede se vermoë aanstaande jaar uit te brei.
Verder is die forum in sy skik om te hoor dat veediestaleenhede forensiese toerusting vir ondersoeke ontvang het, en dat dié eenhede van nou af slégs veediefstalsake sal ondersoek.
Veewaardes
Die forum het op die vergadering besluit dat veewaardes vir veediefstaldoeleindes aangepas moet word. Die nuwe waardes word hieronder weergegee:
Beeste – was R8 000 nou R10 400
• Skape – was R1 300 nou R1 700
• Bokke – was R1 500 nou R1 950
• Perde – was R2 700 nou R3 500
• Donkies – was R500 nou R650
• Varke en Volstruise moet nog afgehandel word, maar ’n 30%-verhoging word aanbeveel.
25 November 2011