
Veediefstal kom al hoe meer in die noorde van die land voor, maar ál hoe minder veediefstalsake word by die polisie aangemeld. En die nasionale veediefstalforum vermoed ook dat veediewe wat uit die tronk vrygelaat is, ook weer begin toeslaan.
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalforum, is bekommerd dat die nie-aanmeld van veediefstal rampspoedige gevolge vir die bekamping daarvan kan hê omdat die polisie hul toewysing van hulpbronne om dit te bekamp grond op die aantal sake wat aangemeld word.
Hy verduidelik dat veediefstal ’n moeilike misdaad is om te ondersoek en ’n resultaat te behaal. “Daar is soveel faktore wat in veediefstal ’n rol speel en wat ’n ondersoek kan bemoeilik – van brandmerke wat nie reg of glad nie aangebring is nie tot misdaadtonele wat versteur word en aanklaers wat nie die belangrikheid van veediefstal besef nie.
“Die polisie werk op ’n ratio van aantal sake per speurder. Indien boere in ’n gebied nie sake aanmeld nie, neem die toekenning van hulpbronne aan daardie gebiede af.”
Clack is onseker hoekom veediefstalgevalle tans soveel toeneem, maar sê dat sake kop uitsteek waar ou werkswyses gevolg word. “Vir die eerste keer in jare sien ons weer ou werkswyses van veediewe en ons vind ook weer vee in ou wegsteekplekke. My vermoede is dat veediewe onlangs uit die tronk vrygelaat is en weer in hul ou weë verval het,” sê Clack.
Om die probleem hok te slaan het die nasionale veediefstalforum besluit om weer die interprovinsiale veediefstalforum in die lewe te roep. “Die idee is om beter samewerking tussen boere en veediefstaleenhede, wat op die provinsiale grense gevestig is, te bevorder,” sê Clack.