
Veerowers het op twee boere en polisie-beamptes in die omgewing van Bothasberg naby Kestell in die Oos-Vrystaat losgebrand.
Luidens 'n nuuverklaring deur Vrystaat Landbou, het 'n boer Dinsdagaand ligte in die veld opgemerk terwyl hy na sy vee omgesien het wat deur ’n jakkals geteister word.
Volgens die VKB/VL-Veiligheidslessenaar se inligting is dié boer en 'n buurman vroeg Woensdagoggend terug na die veekamp toe, waar hulle die veerowers gevind het. ’n Onbekende aantal mans het glo probeer om van die boer se beeste te steel. Hulle het op die boere losgetrek, en die boere het die toneel verlaat en die polisie ontbied.
SAPD se reaksie-taakspan
Die veedrowers het ook op die polisie-beamptes geskiet, en die SAPD se tegniese reaksie-taakspan is ontbied. Die verdagtes het vermoedelik oor die Lesotho-grens gevlug, en geen vee is gesteel nie.
Die boere is van plan om sake van poging tot moord te lê.
Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies sê hy is bly dat na dié voorvalle as roof (of veeroof) verwys word, en nie net as diefstal (of veediefstal) nie. “Hierdie mense poog om die vee te steel terwyl hulle gewapen is en duidelik nie huiwer om hul vuurwapens te gebruik nie. Die gebruik van gewapende geweld of die dreigement van geweld teenoor 'n persoon of persone met die opset om sulke persone van hulle besittings te ontneem, is roof met verswarende omstandighede (oftewel gewapende roof).
Poging tot moord
“As die omstandighede dit regverdig, kan klagtes van poging tot moord ook moontlik bygevoeg word. Sou iemand sterf, is dit 'n klagte van moord. Sover ek weet, kom hierdie soort insidente nie juis elders in die land voor nie. Slegs op die Lesotho-grens.”
Burger sê hy het nie enige syfers om dit mee te staaf nie, maar dit klink asof daar 'n toename in die voorkoms van hierdie tipe misdaad in die Vrystaat rondom die grens met Lesotho voorkom. Behalwe alles wat die polisie en ander veiligheidsdienste behoort te doen om hierdie bedreiging die hoof te bied, is dit duidelik ook 'n growwe skending van die internasionale grens tussen Suid-Afrika en Lesotho. “Gevolglik sou mens verwag dat SA amptelik beswaar by die Lesotho regering sou maak.”
Wees uiters versigtig
Vrystaat Landbou (VL) het boere aangeraai om veral met die naderende feestyd, uiters versigtig te wees. “Ons rig ‘n spesiale versoek aan ons boere om oor die algemeen op hulle eie veiligheid te fokus, veral ook in die feestyd,” aldus mnr. Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL. Veiligheidswenke wat die lessenaar met landbouers deel, is hier beskikbaar.
Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee, sê dit is die tweede voorval van veeroof wat die afgelope drie maande in die provinsie voorgekom het.
“Ons wil landbouers aanmoedig om, wanneer hulle op veediewe of so ’n toneel afkom, nie die verdagtes alleen te konfronteer nie. Veerowers is uiters gevaarlik, en die boere moet onmiddellik die plaaslike veiligheidstruktuur aktiveer en die polisie ontbied.”