Jakkalse is nie die enigste sondaar as dit by veeverliese kom nie. Veeboere moet eerder hul hele bestuursprogram in oënskou neem om te bepaal wat vir verliese verantwoordelik is, sê dr. Jasper Coetzee, tegniese direkteur van die veevoermaatskappy Voermol.
Hy het op ’n boeredag van die landboumaatskappy BKB op Standerton gesê veeboere toon nie altyd maksimum wins nie omdat hulle nie doeltreffend genoeg boer en teelmateriaal behoorlik ontsluit nie.
Die rede vir ’n daling in die lam- en speenpersentasie is soms omdat die boer nie ’n doeltreffende bestuursprogram gebruik nie of selfs ’n verouderde program gebruik. Aan die ander kant speen sommige boere tot 160% van hul lammers omdat hulle ’n moderne bestuursprogram volg.
“Dit is nie meer só dat dit goed met ’n skaapboer gaan solank as die ramme en windpompe werk nie. Die boer moet sy ingesteldheid verander as hy sukses wil behaal,” het hy gesê. Daarom moet boere nie summier die verskoning van roofdiere vir ’n lae speenpersentasie gebruik nie.
’n Swak program vir die bestryding van siektes kan ook ’n rede vir talle vrektes wees. Coetzee het gesê ’n bestuursprogram moet daarop gemik wees om die regte dinge op die regte tye reg te doen, soos paring, inseminasie, bedrywighede tydens dragtigheid en vóór en ná speen, voedingsaanvullings, lammerrantsoene, laktasie, seleksie, voorbereiding van teelramme en ooie en ongediertebestryding.
Nuwe boerderymetodes
Mnr. Wolf Edmayr, besturende direkteur van BKB, het gesê boere kan nie meer boer soos hul oupas dit gedoen het nie. Hulle het nie noodwendig verkeerd geboer nie, maar groot vordering het intussen plaasgevind.
“As ons die regte dinge om die regte redes doen, is daar ongelooflike moontlikhede. Boere moet verander, anders gaan hulle nie oorleef nie,” het hy gesê. “Dit is nie net slimpraatjies nie. Ons land het die nodige kundigheid en boere moet dié kundigheid benut.”
Mnr. Heinrich Victor, bestuurder van plaasdierprodukte by Bayer Dieregesondheid, het gesê die opbou van weerstand by parasiete teen chemiese middels is een rede vir swakker diereprestasie.
Dit kan uiteindelik tot ’n hele weerstandige parasietbevolking op ’n plaas lei. Dit gebeur wanneer chemiese middels nie reg gebruik word nie, soos te veel of te min blootstelling van parasiete aan die aktiewe bestanddeel, of ’n foutiewe aanwendingskonsentrasie. Daarom is dit belangrik om die aanwysings op ’n middel se etiket noukeurig te volg.
16 Maart 2012