Wes-Kaapse koringboere het die pryshef in die hand aangesien veevoervervaardigers in die provinsie deesdae mielies met broodkoring vervang.
Geel mielies word grootskaals uitgevoer en veevoervervaardigers het besluit om dit met relatief goedkoop broodkoring te vervang.
'n Eerste
Mnr. Willem Stander, hoof van verkrygings by Meadow Voere, sê dit is die eerste keer in 29 jaar wat hy in die voerbedryf is dat dit ekonomies lewensvatbaar is om broodkoring pleks van mielies te gebruik.
“Veevoer is ’n bedryf waar die een kommoditeit altyd met ’n ander vervang kan word.” Koring sal egter net ’n paar maande lank as plaasvervanger gebruik word.
“Die tydperk waarbinne só ’n vervanging lewensvatbaar is, is beperk. Ná sowat drie maande (tot Februarie) sal ons die voordeel verloor omdat koring al hoe duurder word soos die jaar vorder en mielies goedkoper,” sê Stander.
Goeie nuus
Mnr. Andries Theron, ondervoorsitter van Graan SA, sê koringboere is opgewonde oor dié ontwikkeling. “Tradisioneel is die koringaanbod hoër as die vraag daarna, wat beteken dat meulenaars weet hulle kan koop teen ’n prys wat hulle pas. Dié ontwikkeling sal egter die oorskot wegwerk, wat tot ’n beter koringprys kan lei.”
Die provinsie produseer jaarliks 600 000 ton koring, waarvan 450 000 ton tradisioneel per jaar verbruik word. Theron hoop die veevoervervaardigers se toetrede as koper sal sorg dat die oorskot vanjaar minder sal wees.
Stander sê alle voer sal egter nie met koring vervang word nie omdat sommige diere eerder met mielies gevoer moet word.
23 Januarie 2012