
Eksplorasie-aansoeke vir skaliegas moet van die heel eerste fase af beveg word, want dit kan maklik in hidrobreking ontaard.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het dié dringende waarskuwing gerig nadat die bedryfsorganisasie se provinsiale affiliasie in Kwazulu-Natal, Kwanalu, onlangs interdikte in die Pretoriase Hooggeregshof bekom het wat die Petroleumvereniging van Suid-Afrika (Pasa) verbied om aansoeke vir 'n eksplorasie-reg en 'n tegniese permit aan die petrochemiese maatskappy Rhino Oil and Gas Exploration South Africa toe te staan. Die betrokke gebied wat Rhino wil ondersoek, beslaan 1,6 miljoen ha oor 15 000 plase in dié provinsie.
Die Agri SA-waarskuwing kom te midde van berigte dat Pasa op die punt is om sy eerste aanbevelings oor die toestaan van eksplorasie-permitte vir skaliegas te gee, nadat terugvoer vanaf openbare raadpleging-sessies en wetenskaplike verslae bestudeer is.
AgriSA se standpunt
Möller het Agri SA se standpunt hieroor duidelik gestel: Gegewe die oorblywende onsekerhede oor watervoorsiening en besoedeling wat met skaliegas-ontwikkeling gepaard gaan, kan Agri SA nie tans die Regering se voortgesette pogings in hierdie verband ondersteun nie, het hy gesê. Hy het na beide konvensionele ontginning, deur boorgate, en hidrobreking in dieper lae, verwys.
Mnr. Janse Rabie, Agri SA se hoof: natuurlike hulpbronne, verduidelik dat die aansoekproses vir voornemende ontginners in verskillende fases geskied: Eers doen so 'n maatskappy aansoek om 'n tegniese samewerkingspermit en/of eksplorasieregte.
Dié ondersoeke, wat met tegniese samewerking en eksplorasie verband hou, behels nie werklike hidrobreking nie. Maar die houers van tegniese samwerkingspermitte kry outomaties die eksklusiewe reg om aansoek vir eksplorasieregte te doen en dit te kry, net soos wat die houers van eksplorasieregte die eksklusiewe reg op aansoek vir produksieregte kry. Die uiteindelike resultaat kan maklik volskaalse produksie wees, hetsy uit boorgate of met hidrobreking.
Daarom is dit nodig om heel aan die begin van die proses standpunt in te neem sodat jy later in ’n posisie is om beswaar te maak. “Jy kan nie net stilsit en wag voordat jy inklim nie, want hierdie prosesse is so outomaties aaneengeskakel,” sê Rabie.
Hofsake
Kwanalu se aansoek om die interdikte in die Hooggeregshof het op vermoedelike tegniese ongerymdhede in Rhino se aanvanklike aansoeke berus. Rabie sê ’n reeks petrochemiese maatskappye het reeds vir aardgas-eksplorasieregte in letterlik elke provinsie van Suid-Afrika aansoek gedoen.
Dit sluit groot dele van onder meer die Kalahari, Waterberge, Noordwes, Vrystaat en Karoo in. Skaliegas is maar een van die aardgasse wat hulle hoop om te ontgin. 'n Ander is olie. Dít en die beoogde metode van ontginning hoef nie in die aansoeke aangedui te word nie.
Rabie se raad aan grondeienaars wat deur sulke aansoeke geraak word, is om Agri SA en hul provinsiale landbou-unies vir hulp te kontak.
“Wees waaksaam en verseker dat die owerheid sy besluite versigtig neem en dat hy risiko’s in ag neem. Woon inligting- en openbare deelname-sessies by. Gebruik al jou regte op beswaar as die owerheid daarin sou faal om sy pligte in besluitneming oor skaliegas-ontwikkeling na te kom,” sê Rabie.
Kyk hier na 'n video waar Möller uitbrei oor die impak van eksplorasie op die landbou.