
Die gemeenskapsbelange-maatskappy Vegan Land Movement se strategie om anoniem aan veilings vir landbougrond deel te neem, blyk al hoe meer suksesvol te wees.
Luidens ’n artikel in Farmers Weekly is die groep se doelwit om veeboere te verhinder om landbougrond te koop deur groot bedrae geld aan te bied vir die eiendomme. Die beweging wil gevolglik al hoe meer grond van veeboerdery ontneem om dit “terug te gee aan die aarde”, aldus sy webwerf.
“Ons missie is om grond – veral grond wat tans vir veeboerdery gebruik word – te bekom en dit terug te gee aan die natuur en die lewende wesens wat daarop staatmaak, asook om dit as veganistiese voedselproduksiestelsels te hervestig,” sê die groep in ’n artikel oor een van sy wenbotte. “Ons het ’n visie van florerende ekostelsels wat alle wildelewe-gemeenskappe kan onderhou.”
Die geld wat vir die aankope van landbougrond gebruik word, word ingesamel deur skarefinansieringsveldtogte en opsionele intekenaarstariewe op die webwerf. Die groep het sedert 2020 vier stukke landbougrond in Brittanje gekoop en hy samel geld in om ’n vyfde stuk grond te koop.
“Dit is ’n opwindende proses, maar ook ’n baie stresvolle een aangesien grond oor die algemeen net ’n paar weke voor ’n veiling op die mark geplaas word. Ons moet dus hard werk aan ons veldtogte om die mikpunt te bereik om aan die veiling deel te neem. Gevolglik kan mededingers – hoofsaaklik veeboere – ons maklik raaksien.”
Buiten grond wat vir weiding bedoel was, het hulle ook ’n stuk grond aangekoop wat beplanningstoestemming het vir ’n eenheid wat omtrent 2 500 hoenders kon huisves. “Ons het deur ’n eiendomsagent uitgevind dat twee hoenderboere daarin belang gestel het. Een het reeds ’n aanbod gemaak en die ander een wou die beplanningstoestemming vergroot om nog meer hoenders te huisves,” skryf die groep in ’n artikel oor dié aankoop.
Die groep glo die heraanwending van grond is die betekenisvolste manier om te reageer op die probleme wat die mensdom ervaar.
“Wanneer ons grond aan veeboerdery toewy, vernietig ons dikwels wildhabitatte. Dit wat ons geneig is om as bukoliese landskappe vol weiende skape en koeie te sien is in alle werklikheid ekologiese woesteny,” beweer die groep. “Mense en hul vee vorm 96% van dierebiomassa; slegs 4% is wilde soogdiere. En dit is omdat ons natuurlike habitatte vernietig en met weiding vervang het.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.