
In ’n poging om die Krugerwildtuin se renosterbevolking teen stropers te beskerm, wil SANParke honderde renosters teen volgende jaar aan private reservate en plase verkoop.
Voornemende kopers van die wildtuin se renosters sal egter deeglike planne vir sekuriteit en kuddebestuur aan SANParke moet voorlê voor hervestiging van renosters by hulle oorweeg sal word.
Prof. Gerry Swan, voorsitter van SANParke se bewaring- en toerismekomitee, het aan Landbouweekblad gesê die eiendomme van aansoekers sal ook ondersoek word om seker te maak die habitat is geskik vir renosters.
In ’n onlangse advertensie in die Sondagkoerant Sunday Times het SANParke mense genooi om aanbiedinge te maak om groepe van 20 of meer renosters van die wildtuin te koop.
Talle renosters is al na Botswana verskuif as deel van die program waardeur Suid-Afrika Botswana help om sy renosterbevolking in sekere dele te hervestig.
Dereck en Beverly Joubert, bekende filmvervaardigers, het onlangs die projek Rhino’s Without Borders begin waardeur hulle hoop om volgende jaar minstens 100 renosters vanuit Suid-Afrika in Botswana te hervestig. In Botswa na is bykans geen renosterstropery nie.
In Suid-Afrika is dit egter ’n ander storie. Swann sê renosterstropery het vanjaar skerp toegeneem.
Net in die Krugerwildtuin is teen middel Oktober reeds 557 renosters geskiet. Volgens die webblad van Rhino’s Without Borders word ’n renoster elke agt uur in Suid-Afrika geskiet.
Volgens die jongste renostersensus is sowat 9 600 renosters in die Krugerwildtuin oor.