
Agri SA se landelike beveiligingskomitee het Maandag, 13 Maart, met 'n hoëvlak afvaardiging van die polisie en ander verteenwoordigers van die land se veiligheidsmagte dringende gesprekke gevoer en beplanning gedoen oor verskeie landelike veiligheidsaspekte wat die veiligheid van die boerderygemeenskap bedreig.
“Ons het waardering vir die polisie se betrokkenheid en die erns waarmee hulle die landbougemeenskap se veiligheid hanteer”, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Hy sê in nuusverklaring die onbevredigende situasie rakende plaasaanvalle en -moorde wat ernstige gevolge vir die boerderygemeenskap inhou, het spesifiek aandag geniet. Die komitee het gemaan dat plaasaanval- en -moordstatistieke versigtig gebruik moet word om nie emosies onnodig op te jaag nie.
Verkeerde gebruik van statistiek
“Die verkeerde gebruik van statistiek lei tot onrustigheid by die landbougemeenskap. 'n Ontleding van die onlangse plaasmoordstatistiek wat in die media gerapporteer is, toon dat van die moorde, volgens die definisie van 'n plaasaanval, nie 'n plaasmoord was nie. Die voorkoms van plaasmoorde die afgelope tyd spreek boekdele van die volgehoue misdaadaanslag op boere, plaaswerkers en hulle gesinne, wat uiteraard ook Suid-Afrika se strewe na voedselsekerheid en 'n stabiele landelike gebied benadeel”, sê Möller.
Die uitsprake oor grondbesettings wat uit verskeie oorde gepropageer word en ook die naweek in die media gerapporteer is, is ten sterkste deur die komitee veroordeel en het 'n hoë prioriteit tydens die vergadering geniet.
Volgens Möller verwerp Agri SA ten sterkste alle uitsprake oor die besetting van landbougrond en aansprake dat boere hulle grond op 'n onregmatige wyse bekom het en dit daarom geregverdig sou wees om die grond te beset en terug te neem. Beplanning om dié optrede teen te staan, is bespreek en provinsiale organisasies is versoek om dit tot op plaaslike vlak deur te voer.
Hantering van grondbesettings
Die komitee het bevestig dat Agri SA se inligtingsdokument oor die hantering van grondbesettings wat oor jare aangepas is, die implementering van sy protokol vir toegang tot plase en deurlopende skakeling met die plaaslike polisie aspekte is wat op plaaslike vlak toegepas moet word.
Bestaande polisiebeleid en prosedures oor die hantering van betreding- en grondbesettingsklagtes, is weer eens bevestig en ‘n beroep is op die polisie gedoen om plattelandse polisiestasies op die hoogte te bring rakende die implementering daarvan op plaaslike vlak.
Ten slotte sê Möller dat die Agri Securitas Trustfonds geskep is om aanvullende bydraes te maak op boereverenigingvlak om die gemeenskappe te help om hul eie veiligheid te verbeter. Verskeie landelike beveiligingsprojekte is al deur die Trustfonds gefinansier, wat bygedra het om die boerderygemeenskap te beveilig. Agri SA se provinsiale organisasies speel 'n belangrike rol in die evaluering van die versoeke en navrae oor die benutting van fondse kan aan die organisasies gerig word.