Die TLU SA is begaan daaroor dat mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, nie Dinsdag by ‘n vergadering opgedaag het nie.
Luidens ‘n berig op News24.com sê mnr. Henry Geldenhuys, ondervoorsitter van die TLU SA, dat Mthethwa geskeduleer was om die vergadering by te woon.
Mnr. Zweli Mnisi, die minister se woordvoerder, sê hulle het nie bywoning van die vergadering bevestig nie, want hulle is nie genooi nie. Die media is verlede week deur die organisasie genooi om die vergadering by te woon waarheen Mthethwa en genl. Nhlanhla Sibusiso Mkhwanazi, waarnemende Polisiekommissaris genooi is.
“Plaasaanvalle kan nie voortgaan soos wat nou gebeur nie. Is dít die hoeveelheid aandag wat die Polisie en Ministerie aan die saak gee? Dit is ‘n bron van groot kommer vir ons,” aldus Geldenhuys.
Plaasaanvalle moet prioriteitsmisdaad wees
Tydens die vergadering het die organisasie weer eens gesê dat plaasaanvalle as ‘n pioriteitsmisdaad hanteer moet word. “Ons het nodig om te bevestig of landelike veiligheid werklik op voetsoolvlak as ‘n prioriteit beskou word, want ons kry nie daardie idee nie,” aldus mnr. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van die TLU SA.
Van Zyl sê die organisasie is bekommerd oor die polisie se vermoë om geweldadige misdaad te ondersoek.
Bron: News24.com
14 Maart 2012